Skip to main content

WZ- E-edition - 2 October 2025

Page 1

Jou vallei - jou nuus

Thursday, 2 Oktober 2025 Tel: 023 347 0968

Inwoners ruk op oor kragaankope Kredietmaatreëls opgeskort Ronél van Jaarsveld Die gort was verlede week gaar in die Langeberg-munisipaliteit met ontstelde verbruikers wat die afgelope week in lang rye by munisipale kantore gestaan het.

Matriekafskeid in lente Dit is weer heerlike lente en ook die seisoen waartydens matriekleerlinge hul skooldae op hul matriekafskeid vaarwel roep. Dorinique Williams het net so mooi soos die vrolike vygies in die Karoowoestyn Nasionale Botaniese Tuin in Worcester op haar foto-sessie die afgelope Dinsdag geblom. Dorinique is die hoofmeisie van die Hoërskool Breërivier. Matrieks is welkom om hul afskeidsfoto’s vir publikasie-oorweging na worcesterstandard@novusmedia.co.za te e-pos, met hul naam, van en in watter skool hulle is. Foto: BrightCam/Marike Knutsen

Inwoners was verslae nadat hulle krag gekoop het, maar minimale eenhede ontvang het, nadat nuwe kredietbeheermaatreëls ingestel is. Kragaankope word beperk of konvensionele elektrisiteit word afgesny indien die verbruiker agterstallig is. Inwoners sê dié stap was onverwags. Van hulle se rekeninge is foutief en wys glo dat hulle derduisende rande agterstallig is. Van die inwoners blameer die nuwe munisipale rekeningstelsel, wat aan CCG Systems toegeken is. Die munisipaliteit het die afgelope Donderdag (25 September) in ’n kennisgewing op sy Facebook-blad aangekondig dat die implementering van die kredietbeheermaatreëls op agterstallige rekeninge tydelik

gestaak word, omdat ’n groot aantal inwoners betalingsreëlings wou tref. Standard Breërivier Gazette het vroeër berig ’n groep sakelui en inwoners het op 7 Augustus ’n petisie aan die munisipaliteit oorhandig. Hulle was bekommerd oor foutiewe rekeninge wat groot kragverbruikers duur te staan kom en die munisipaliteit se inkomste kan beïnvloed. Hulle het ook vrae oor die finansiële bestuur gehad. Die groep het vandeesweek ’n brief aan Standard Breederivier Gazette gestuur. “Ten spyte van inwoners se duidelike eise vir ’n volledige raadsvoorlegging oor die CCG-stelsel, ’n onafhanklike ondersoek na die goedkeuring en implementering daarvan en ’n dringende herstel van gesonde begrotings- en finansiële beheer, het die munisipaliteit verkies om die petisie deur onbehoorlike prosedurele vereistes te probeer stilmaak,” het die brief gelui. Inwoners beweer die jongste ongeouditeerde finansiële state dui aan dat die petisie geldig was.

Verspreidingsverliese het volgens hulle gestyg van 5,76% in 2024 tot 16,89% in 2025, wat meer as 51 miljoen kWh teen ’n koste van R143 miljoen verteenwoordig. Dit is byna vier keer die vorige jaar se R39 miljoen. Slegteskuld-afskrywings het glo meer as verdubbel – van R13,8 miljoen (2024) tot R28,1 miljoen (2025). Hulle skryf waardedalings (impairments) op debiteure het van R15,6 miljoen in 2024 tot R65,9 miljoen in 2025 toegeneem. Die groep vra dat die petisie op ’n raadsvergadering ter tafel gelê word. Die munisipaliteit het reageer dat die verhaling van agterstallige rekeninge gestaak is – ook die beperkings op die aankoop van voorafbetaalde krag. Rekeninghouers wat minder elektrisiteit ontvang het hoewel hul rekeninge nie agterstallig was nie, sal vergoed word. Hulle kan die hoofklerk by die betaalpunte by 023 626 8265 of LSibara@langeberg.gov.za kontak. Inwoners kan ook die hulplyn by 0860 88 1111 skakel. “Ons bly toegewy daaraan om hierdie uitdagings doeltreffend op te los,” het die munisipale bestuurder, Daniël Lubbe, gesê.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook