Skip to main content

Weslander-E-edition-22-May-2025

Page 1

Hou die Weskus ingelig sedert 1972

22 Mei 2025

Prys: R4,00 | Tel: 022 713 1251 / Epos: weslander@novusmedia.co.za / Facebook: Weslander Instagram: weslander_koerant / Whatsapp: 082 576 0453

Bibberweer B tref Weskus

Bly ingelig oor waarskuwings

Alida Buckle uiten ’n paar plaaslike oorstromings in sommige dorpe het vandeesweek se yskoue weersomstandighede die Weskus nie te erg getref nie – behalwe dat die snerpende koue, Weskussers na hul musse en dik baadjies laat gryp het.

Die onweerswolke het behoorlik oor Langebaan gehang tydens die verbygaan van dié kouefront Dinsdagaand (20 Mei). Foto: Heidi Prinsloo

Vioolstaat in Diazville was ná die swaar reën toe onder water.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aan die begin van die week ’n waarskuwing uitgereik oor twee kouefronte wat om die suidpunt van die land sou beweeg en wind van tot 65 km/h sou veroorsaak. Volgens Robin-Lee Batties, ’n woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Weerdiens, is 20,2 mm reën by die Cape Columbine-weerstasie by Paternoster tussen Maandag en Dinsdag (20 en 21 Mei) gemeet. Op die Facebook-groep “Reënval Suid-Afrika” het Koos en Wilna Louw van Langebaan laat weet dat hulle tussen 20 en 21 Mei altesaam 32 mm gemeet het. Paul Schultz in Vredendal het ook 32 mm gemeet, en Susan-Katryn Janse van Rensburg het 20 mm in Paternoster gemeet. Ronélda van der Schyff was een van vele Weskus-inwoners wat Woensdagoggend (21 Mei) die pragtige reënboog bo-oor die Weskuspad (R27) tussen Velddrif en Langebaan afgeneem het. Ethne Lawrence, ’n skakelbeampte vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, het gesê Dinsdag (20 Mei) is plaaslike oorstromings in verskeie strate in Saldanha, Vredenburg, Laingville by St. Helenabaai, Diazville in Saldanha en

Langebaan ervaar. Alle paaie is egter later die dag heropen. Melanie Bailey, wat al 46 jaar in Diazville woon, het aan Weslander gesê hoewel die reën Dinsdag (20 Mei) hard geval het, was dit baie welkom. Om reënskade tydens storms in Suid-Afrika te voorkom, stel die WesKaapse regering voor om huisinstandhouding, dreinering en voorbereidingsmaatreëls ’n voorkeur te maak. Inspekteer gereeld geute, dakke, dreine en mure vir krake of skade, hou dit in stand en doen herstelwerk onmiddellik. Knap dreine op om te verseker dat hulle reg werk en verhoogde watervloei kan hanteer. Beveilig buitemeubels en voorwerpe en gebruik waterversperrings of sandsakke in vloedsensitiewe gebiede. Identifiseer gebiede waar water opdam en verbeter dreinering. Moenie oorstroomde paaie of brûe oorsteek nie en moenie deur stilstaande water ry nie. As jy in ’n storm vasgevang is, soek skuiling op ’n veilige plek, soos ’n gebou of onder ’n brug. Moenie tydens storms weens die gevaar van vallende takke en puin onder bome parkeer nie. Bly ingelig oor weervoorspellings en waarskuwings en wees voorbereid om te ontruim indien nodig. • Teen die tyd dat die koerant drukkers toe is, is geen verdere padsluitings of wind- of branderskade aangemeld nie.

’n Satellietfoto van die kouefront Woensdag omstreeks 11:30. Foto: EUMETSAT


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Weslander-E-edition-22-May-2025 by Novus Media - Issuu