Dr Gavin Breeds OBSTETRICIAN and GYNAECOLOGIST MbChB (UCT) FCOG(SA)
Wesfleur Private Clinic Wesfleur Circle, Atlantis Bookings:
Tel: 021 572 8578 • 069 427 9422 Whatsapp: 066 097 0534 NM10021074-WU290725
Verspreidingsgebiede: Atlantis, Mamre, Pella, Duinefontein en Melkbosstrand | Dinsdag, 12 Augustus 2025 | Tel: 067 091 0618 | E-pos: Murphy.Roberts@novusmedia.co.za
Lewenslank vir moord Murphy Roberts
“Vertroue was van kardinale belang om die moordenaars van Fakier Moosa (31) agter tralies te kry,” het kol. Mari Thyse, die stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie gesê. Allen Sigole, Nadeem Jeffries, Shahied van der Walt, Jodin Godfrey en Keenan Jeffries – die vyf verdagtes in die moord – is verlede Woensdag (6 Augustus) ná meer as nege jaar lewenslank tronk toe gestuur. Hulle het weer in die Malmesbury-streekhof verskyn. Moosa is op 30 Julie 2019 vermoor. Sy ma het die aand van die tragedie op sy erg verminke lyk in ’n oop stuk veld naby Sheely Court, Avondale, afgekom. Volgens die staat is Moosa 16 keer met ’n skerp voorwerp gesteek, ses keer geskiet en sy skedel is gekraak. Moosa se wrede dood het skokgolwe deur die gemeenskap van Avondale gestuur. Volgens lt.kol. Theresa Reeves, die speurhoof, het die ondersoekspan deurentyd aan die saak gewerk, hoewel die eerste deurbraak eers byna ’n jaar en ’n half later gemaak is. Thyse het die span onder leiding van kapt. Rodney Roos vir hul toewyding en
knap ondersoekwerk geprys. Volgens Thyse was daar veral ná die moord van die ander getuie, en voordat die verhoor kon begin, baie druk op die ondersoekspan. Reeves het benadruk dat haar span boonop die enigste oorlewende getuie as deel van die getuiebeskermingsprogram voortdurend veilig gehou het. Hulle deursettingsvermoë om die getuie se veiligheid te verseker sodat hy kon getuig, het tot die moordenaars se skuldigbevinding en die swaar vonnis gelei. Thyse het beklemtoon dat mense gewis vertroue in die beskermingsprogram en die ondersoekspan het, en dit bewys die polisie kán ’n getuie met samewerking beskerm. Die gemeenskap het ook ’n belangrike rol gespeel met die inligting wat veral in dié saak aan die polisie verskaf is en tot die deurbraak gelei het. Reeves het bevestig dat ’n sesde verdagte vermoor is terwyl hulle op borgtog was. Volgens ’n woordvoerder van die oorledene se familie het hulle vrede gemaak met Moosa se dood en hulle berus by die straf wat die skuldiges gekry het. Thyse het die gemeenskap aangemoedig om met die polisie saam te werk om Atlantis veiliger te maak.
Atlantis nou so stukkie veiliger
Lt. kol. Theresa Reeves (speurhoof), AO Anthony Booysen, kol. Mario Thyse (stasiebevelvoerder) en speurkonst. Angelo Hendricks ná die vonnis van lewenslange tronkstraf vir die moordenaars van Fakier Moosa bekendgemaak is. Foto: Murphy Roberts
Nog drie mense in net twee dae in Atlantis afgemaai Murphy Roberts
‘n Polisieband by ’n misdaadtoneel. Foto ter illustrasie. Foto: Luda TDB | iStock
Onskuldige bloed vloei soos water in Atlantis met drie mense wat in die bestek van twee dae doodgeskiet en verskeie ander gewond is. Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het die eerste voorval Donderdagaand (7 Augustus) plaasgevind. Iemand het op twee sestienjariges in Deerlodgestraat, Sherwood Park, losgebrand waar hulle by ’n perd gestaan het. Die een tiener van Saxonsea het later in die Wesfleur-hospitaal aan sy wonde beswyk.
Volgens Munro was die twee tieners nie by enige bendebedrywighede betrokke nie – net op die verkeerde tyd en plek. Die polisie vermoed die skietery hou verband met ’n vermeende bendebaas in die omgewing. Geen verdagtes is nog aangekeer nie, het Munro bevestig. In die tweede voorval, is ’n negentienjarige tiener Saterdag 9 Augustus in Saxonsea doodgeskiet. Volgens Munro het die tiener en sy vriende op ’n stoep gestaan en kuier toe op hulle losgebrand is. Die tiener het by die huis ingehardloop en daar aan sy wond beswyk.
Munro het gesê ’n silwer motor het glo nadergery, waarna nog drie skote op die groep geskiet is. “Die oorledene is ’n enkele kopskoot toegedien.” In nog ’n voorval op Sondagaand (10 Augustus) is een slagoffer doodgeskiet en een in die been gewond. Dit het vermoedelik in ’n rusie gebeur. Die oorledene is eers later in die hospitaal oorlede en die beseerde word steeds in die hospitaal behandel. Munro het bevestig dat die verdagte aangekeer is en binnekort in die Atlantis-landdroshof gaan verskyn.