WeskusNuus E-Edition - 14 October 2025

Page 1


Metro-beamptes help teen misdaad

Sekspes eintlik monster

Die 53-jarige beskuldigde wat op Vrydag 19 September na bewering twee maatjies van onderskeidelik 10 en 11 jaar oud na duine gelok het “om sy hasies te gaan kos gee”, is as ’n monster beskryf.

Die verdagte ís al aan seksuele dade met minderjariges skuldig gevind wat spruit oor drie dekades, het ’n betroubare bron aan WeskusNuus verklap.

Volgens die bron is die beskuldigde in 1993 in die Paarl aan ’n seksuele misdryf met ’n minderjarige skuldig bevind en ses jaar tronkstraf opgelê, waarvan vier jaar vir vyf jaar opgeskort was.

“Die Monster”, soos hy nou gedoop is, het daarna verskeie ander seksuele misdrywe met veral minderjariges gepleeg.

Sy laaste was ’n 11-jarige en

hy is vir 10 jaar tronk toe gepos.

Volgens die polisiewoordvoerder kapt. Lisa Munro word tans twee klagtes van poging tot verkragting sowel as van seksuele aanranding en ontvoering teen die verdagte ondersoek.

“Die Monster” het sy borgaansoek op Maandag 29 September laat vaar en moet op 28 Oktober weer in die hof verskyn.

Die dapper optrede van een van die twee meisies in die jongste geval het die ander van verkragting gered toe sy, terwyl die maniak besig was om sy broek af te trek, die kans gebruik het om weg te hardloop en hulp te gaan kry.

Kapt. Munro het bevestig dat ’n 53-jarige man op 19 September ná ’n volskaalse soektog net ná 17:00 naby sy huis op klagtes van ontvoering en poging tot verkragting aangekeer is.

Volgens ’n betroubare bron het die man, wat onlangs ná

Al in 1993 eerste keer skuldig

nege jaar weens verkragting uit die tronk gekom het, die twee maatjies die betrokke Vrydagoggend by die ou sentrum genader. Hy het na bewering die een kind gestuur om “chips”te gaan koop en gevra hulle moet

saamgaan om sy hasies te gaan kos gee.

Die twee onskuldige meisies het ingestem om te gaan help om die hasies te gaan kos gee, vertel die bron.

Die beskuldigde het egter met

die twee na die duine geloop, waar die hasies kwansuis sou wees, en het onwetend in die verkragter se strik beland.

Volgens die bron is gou alarm gemaak oor die twee vermiste meisies en talle beeldmateriaal is opgevolg, wat die polisie na die duine gelei het. Die polisie se lugvleuel was binne ’n uur op die toneel en verskeie hommeltuie is ook ontplooi.

Volgens die bron is die meisie wat weggekom het, deur ’n motoris na die polisiekantoor geneem terwyl die verdagte koue voete gekry en in die duine verdwyn het. Die soektog het egter voortgeduur en die gebied is gefynkam, maar sonder sukses, vertel die bron. Hy was soos ’n skim en ken die gebied soos die palm van sy hand, want niemand kon hom opspoor nie. Die man het laatmiddag doodgerus huis toe gestap en inwoners het die polisie gekontak.

Die subraad 1-voorsitter Allister Lightburn en subraad 1-bestuurder Wessie van der Westhuizen saam met die pas ontplooide Metropolisielede wat nou voltyds in Atlantis werk.
Die plek buite Atlantis waarheen die vermeende kinderverkragter die twee meisies gelok het. Foto: Murphy Roberts.

Bejaardes in slenters gekul

As ’n onbekende jou bel of ’n WhatsApp of e-pos stuur, druk liewer dood, delete dit en gooi in jou virtuele asblik eerder as om deel te word van die groeiende lys ouer mense in Atlantis wat vir slenters en fopstories val en baie geld verloor.

Die Atlantis-polisie doen ’n beroep op inwoners om nié oproepe van “die bank”, “die lughawe” of “die koerierdiens” te beantwoord of op skakels van ’n vreemde selfoonnommer in ’n WhatsApp of e-pos te klik nie.

Slenters waarmee mense al te doen gekry het, byvoorbeeld, is ’n sogenaamde “bankamptenaar” wat die slagoffer bel en meedeel dat “iemand geld uit hulle rekening getrek het”.

Banke sal dit nooit per WhatsApp of oor die foon doen nie!

Die skurke gee dan aan die slagoffer ’n “saak-verwysingsnommer” en verwys hom of haar na die “bestuurder”.

Die bestuurder – gewoonlik iemand wat dieselfde taal as die slagoffer praat – verseker dan die slagoffer dat hy of sy wel met die bank praat.

In een geval is die slagoffer aangesê om hierna die geld “tussen twee banke oor te plaas”.

Niemand mag jou voorsê wat om met jou geld of jou bankrekening te doen nie! Beskou dit as uiters verdag en druk die

foon dood. Blok die nommer. Nadat die slagoffer die geld oorgeplaas het en toe vra wanneer sy haar geld gaan terugkry, het die gewetenlose swendelaar bloot net gesê “nooit”.

Veral bejaardes is ’n spesifieke teiken van swendelary-sindikate.

In nog voorbeelde gee die skelms voor dat iemand besig is om die slagoffer se kaart te gebruik. Hulle wil dan kastig “seker maak” dat die slagoffer wel die wettige kaarthouer is. Slagoffers gee dan goedgelowig hul OTP-nommers vir die skelms, waarna geld uit hul rekeninge getrek word.

Of, die misadigers bel en deel die slagoffer mee dat iemand besig is om “goedere by ’n bekende kettingwinkel te probeer koop”, maar dat die “transaksies elke keer afgekeur word”. Die swendelaars vra dan dat die slagoffer hulself as ’n begunsdigde “byvoeg” en “geld aan hulself oorbetaal”. Die hartseer van die saak is dat baie bejaardes dit doen en hulle dan uit derduisende rande gekul word.

’n Ander, ouer truuk, is om die slagoffer te laat glo dat hy of sy “geld sal ontvang” mits hulle ’n bedrag oorbetaal as “release fee”. Nodeloos om te sê, verloor hulle duisende rande en kry hulle nooit die beloofde geld nie.

Die polisie vra die gemeenskap om alle oproepe van vreemde nommers as verdag te beskou en geen persoonlike inligting uit te gee óf te “verifieer” nie.

Een in grubotsing dood

“As jy drink en bestuur, is jy ’n moordenaar!” het dit verlede week op sosiale media gegons nadat die bestuurder van ’n wit Volkswagen Polo oor ’n stopstraat gejaag en na bewering iemand se dood veroorsaak het.

Hy het vermoedelik teen ’n hoë spoed gejaag en die stoptekens op die hoek van Charl Uys-weg en Sampsonstraat geïgnoreer. Dit het ’n ernstige botsing veroorsaak, wat een slagoffer dood gelaat het.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n woordvoerder van die Atlantis-polisie, het die voorval Saterdagaand 4 Oktober omstreeks 21:50 gebeur.

Sy het bevestig dat die betrokke Polo-bestuurder van die toneel af gevlug het.

Cable theft City’s concern

It must be very annoying for residents to get up in the morning to provide for their families only to find there is no electricity to power the comveniences they take for granted. So says ward councillor Allister Lightburn.

Electricity-supply cables are constantly under attack from vandals and thieves, damaging the infrastructure and leading to outages despite repeated repairs.

Lightburn’s comments were made after Avondale was once again left in the dark last week when thieves stole a cable meters away from the police station, resulting in an early-hours power outage.

“The City has attended to hundreds of electricity vandalism-related faults in recent months,” he said.

Illegal connections to City infrastructure are also disconnected across the metro on a regular basis.

“We encourage community members to assist in ending this scourge,” Lightburn said.

He added the City had some of the highest burn rates of streetlights in the country and repair work was ongoing, just so standards of supply could be maintained.

"Apart from launching the Electricity Safety Teams to help fight vandalism and theft of electrical infrastructure, the City is replacing material that is in high demand due to scrap metal value with material that does not have the same value.”

Members attached to the Atlantis police’s Crime Prevention Unit were doing patrols in Courser Lane, Robinvale, Atlantis at 06:40 on Thursday morning, when they spotted a male walking with a bag.

“On spotting the police vehicle he tried to flee, but was caught in possession of stolen electrical cable,” Capt Lisa Munro, police spokesperson, confirmed. She said it was discovered the cable, valued at R15 000, was stolen from Robinvale High School during a break-in that morning.

Any suspicious behaviour must be reported to the City’s law-enforcement agencies or its Fraud Hotline on 0800 1100 77 or to the police. The South African Police Service remains the lead authority in crime prevention.

Volgens ’n ooggetuie het hy self ook die dood vierkantig in die oë gestaar, want hy was besig om die kruising ten tyde van die botsing te nader.

Volgens die getuie was ’n minibustaxi vol werkers net besig om die kruising oor te steek toe die Polo teen ’n vinnige spoed aankom. Dit het die taxi só hard getref dat dit omgeslaan en op die sykant tot stilstand gekom het. Die taxi het ook teen die getuie se stilstaande motor gebots.

Volgens die getuie kon hy op daardie oomblik nie dink wat om te doen nie, want hy het “gevries”.

Volgens Munro is sewe beseerdes, wat in die taxi was, na die hospitaal geneem. Sy het ook bevestig dat ’n klagte van strafbare manslag ondersoek word en meer klagtes sal dalk later bygevoeg word.

Een slagoffer is dood en verskeie ander beseer toe ’n vermeende dronk bestuurder ’n stopstraat verontagsaam en van die toneel af gevlug het.
Ouer mense is veral teikens vir foonmisdadigers. Foto: Unsplash | Gervyn Louis
Sgt Elroy Damonse, Const Timothy Daniels, Const Jamy-Lee Fisher, Const Arlene Hector with the suspect who allegedly stole cable at the school.
Ward councillor Allister Lightburn where cable thieves recently left residents of Avondale in the dark. Photo: Murphy Roberts.

Sanitêre doekies vir skole geskenk

“Ek was geskok om te hoor ’n meisie kon nie skool toe gaan nie omdat haar ouers nie vir haar pads kon koop nie.”

Leeroy Moses, ’n pensioentrekker, sê dít het hom vir minute laat stilsit. Toe begin hy kyk na maniere om te help. Hy was geskok om uit te vind dat dit gereeld in Atlantis gebeur. “Ek het my persoonlike sosiale media gebruik om die gemeenskap se hulp te vra.

“Die reaksie was eenvoudig wonderlik,” vertel hy. Baie mense het vir hom geld gestuur sodat hy sanitêre doekies kon koop.Die projek het hom ook aan

baie mense bekendgestel. “Dit was gewis baie suksesvol. Ek wens dit kan elke dag gedoen word,” het hy gesê.

Die Atlantis-polisie se Men for Change en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Vrouenetwerk het die sanitêre doekies wat Moses ingesamel en gekoop het, op Dinsdag 30 September aan 20 skole, insluitend Vaatjie Primêr, oorhandig.

Volgens Sherine Claassen van die Atlantis-polisie se Vrouenetwerk wou hulle as polisielede ook graag hulp verleen aan jong meisies wat nie sanitêre doekies kan bekostig nie.

“Baie leerders bly by huis, juis omdat hulle nie sanitêre doekies het of kan bekostig nie.” Sy het almal wat ’n bydrae gelewer het, bedank.

Leeroy Moses (Atlantis-polisie se Men for Change) kapt. Irene Poggenpoel en Shirene Claassen met doekies vir vroulike kollegas. Foto: Murphy Roberts.
Keisha Williams (Atlantis-vaardigheidskool), Shirene Claassen (Atlantis-polisie se Vrouenetwerk) en Storhm Adonis van Asos ontvang die skool se pakkies.
Liezel Bowers van Robinval Sekondêr ontvang haar skool se doekies van Shirene Claasen en AO Denver Abrahams.
Tamryn Collins van Proteus het haar skool se doekies van Shirene Claasen en AO Denver Abrahams ontvang.
Carmen Gilmore en haar kollega Glenwill Boois van Pella Primêr ontvang hul pakkies van Shirene Claassen (middel).
Denver Abrahams en Leeroy Moses by Angeline Stringer (middel) van Saxonsea Sekondêr.
Liezel Bowers van Robinval Sekondêr ontvang haar skool se doekies van Shirene Claasen en AO. Denver Abrahams
Leeroy Moses oorhandig Vaatjie Primêr se pakkies aan Chloe Momberg.
Jeneen Roman van Atlantis Sekondêr ontvang haar skool se doekies van Denver Abrahams.
AO Murray de Kock en Shirene Claassen oorhandig Grosvenor Primêr se doekies aan Abigail Prins en Zeta Davids.
Leeroy Moses, Shirene Claassen en Murray de Kock oorhandig Kerria Primêr se doekies aan die voorsitter van die beheerliggaam, Uthmaan Solomons.
Leeroy Moses oorhandig Robinhill- Spesiale Skool se doekies aan juffrou De Jager.
Leeroy Moses oorhandig doekies aan Nosibulelo Manganga van Witsand Primêr.
Amy-Lee Abrahams from Saxon Sea Secondary
Aphile Moruka from Melkbos High
Kaylin Stadler from Robinvale High Wildean April from Atlantis Secondary.
Benjonica Clarke from Robinvale High.
Celsey Julies from Robinvale High
Danielle Botes from Atlantis Secondary
Josh-lea Sanie from Saxonsea Secondary
Loann Kay from Saxonsea.
Shailin Langeveldt from Atlantis High School
Shimone Moses from Proteus Secondary School Tesmica Solomons from Saxonsea High School
Vaneshiree Cloete from Proteus High School Carly Daniels from Atlantis Secondary
Joel Maree from Melkbosstrand High with his partner, Tatum van Wyk.
Jordan Jansen from Saxonsea Secondary.
Kian Rossouw, Atlantis Senior Secondary School.
Zhonrick Roberts from Saxonsea High School. Chunique Swartz from Saxonsea High School.
Hayree Cleophas from Saxonsea Secondary.
Keano de Waal and Shenique Moses from Robinvale Secondary.
Aron Becorney from Robinvale High. Zoe Herman from Robinvale High.
Zynique Carolis from Proteus.

Troeteldiere kán ‘praat’

Troeteldiere is lewende wesens met emosies en behoeftes. Omdat hulle nie met woorde kan sê oor wat fout is of wat hulle nodig het nie, praat hulle met hul gedrag.

’n Hond of kat wat skielik anders optree, probeer iets wys en dit is ons taak om dié seine raak te sien.

Honde gebruik hul hele lyf om te wys hoe hulle voel. ’n Kwispelende stert beteken nie altyd blydskap nie – ’n los, wye swaai dui op opgewondenheid of vriendelikheid, terwyl ’n stywe, hoë stert spanning of selfs aggressie kan aandui.

As ’n hond sy ore plat trek of sy lyf laer maak, kan hy bang of onderdanig wees. Wanneer hy grom of sy tande wys, sê hy eintlik net: “Ek is ongemaklik; gee my ruimte.”

As jou hond onrustig rondloop, aanhoudend blaf of meubels kou, probeer hy dalk sê hy verveel hom of is angstig. Dis dikwels ’n teken dat hy meer aandag, oefening of speletjies nodig het.

Katte kommunikeer sagter, maar net so duidelik – as jy weet waarna om te kyk. Spin beteken gewoonlik dat hulle ontspan, maar ’n kat kan ook spin as hy pyn het en homself probeer kalmeer. ’n Kat wat wegkruip, is nie noodwendig skaam nie –hy kan bang of siek wees. ’n Stert wat regop staan, beteken vertroue en liefde, maar ’n stert wat vinnig heen en weer swaai, wys irritasie. As sy ore platgedruk is, voel hy bedreig.

Klein veranderings soos minder eet, buite sy sandbak urineer of aggressief

raak teenoor ander diere, kan ook wys dat iets fout is – fisiek of emosioneel.

Katte is berug daarvoor dat hulle pyn probeer wegsteek, daarom is dit belangrik om op sulke tekens te let. Gedragsveranderings is dikwels die eerste teken van siekte of ongemak. ’n

Hond wat gewoonlik vrolik is, maar skielik teruggetrokke raak, kan pyn hê.

Katte wat meer slaap of minder speel, probeer dalk net ongemak hanteer. Hierdie klein leidrade help om probleme vroeg te ontdek en betyds behandeling te kry.

Phone these numbers in case of an animal emergency

In case of animals in need or if you are willing to help as a volunteer at an animal welfare organisation, please call the Cape Town SPCA on 083 326 1604 (email to info@capespca.co.za) or the Dassenberg Rescue Centre, on the R304 between Atlantis and Melkbosstrand, on 072 057 7717 (email to info@ dassenbergrescue.org)

Om jou dier se gedrag beter te verstaan, verg geduld en waarneming. Let op wanneer iets in hul gewoontes verander. Vergelyk dit met hul gewone gedrag – dis die maklikste manier om iets vreemds raak te sien.

Kyk ook na die geheelprentjie – die situasie, liggaamstaal en klanke. Dink aan moontlike stresfaktore soos nuwe diere, harde geluide of ’n verandering in roetine. Baie sogenaamde “stoute” gedrag het eintlik ’n eenvoudige verklaring. ’n Hond wat jou skoene kou, is dalk verveeld of angstig omdat jy lank weg is. ’n Kat wat snags deur die huis hardloop, probeer net energie verbrand wat hy nie deur speeltyd kon wegwerk nie. As ’n hond jou aanhoudend krap, vra hy dalk vir aandag of kos – maar dit kan ook beteken dat iets hom pla. ’n Kat wat sy poot heeltyd lek, kan ’n seertjie hê of ’n velprobleem ontwikkel.

Wanneer jy leer om hierdie gedrag te “lees”, versterk dit die band tussen jou en jou troeteldier. Jy begin verstaan wat hulle probeer sê en wys respek vir hul emosies. Daardie respek bou vertroue, en vertroue is die kern van enige hegte verhouding – ook dié tussen mens en dier.

Ons diere het nie woorde nie, maar hulle “praat” voortdurend met ons. Elke blaf, spin of stertswaai dra ’n boodskap. Dis ons plig om dié taal aan te leer en met sorg daarop te reageer. Só verbeter ons hul lewensgehalte en kan ons raaksien as iets verkeerd is.

Navorsing wat Novus Media aan die einde van 2024 onderneem het, wys hoe ons plaaslike koerant ons inkopies beïnvloed; waar en wat ons koop, en ook hoe ons ons inkopiekeuses maak.

Coby wil graag hê iemand moet saam bal speel. Foto: Inge Thiart.

‘Genees Atlantis’ ondanks uitdagings steeds op koers

Murphy Roberts

Ten spyte van baie uitdagings is die Genees Atlantis-inisiatief op koers, sê die gemeenskapsaktiviste Peter Stoffberg en Fiona Abrahams.

Hulle het in ’n onderhoud op Radio Atlantis oor hul toekomsplanne gesels. Die inisiatief gaan volgens Stoffberg en Abrahams binnekort ’n nuwe rigting inslaan, waaroor hulle nog nie te veel wou uitlap nie.

Volgens hulle word baie goeie vordering met die oorsig oor staatsdepartemente gemaak en die opvolg van klagtes oor veral maatskaplike dienste geniet tans aandag.

Stoffberg het aangedui die Atlantislanddroshof is nou in hul visier – veral weens ’n groot klomp dossiere wat nooit op die hofrol geplaas word nie.

“Dit is kommerwekkend dat talle baie ernstige misdade nie op die rol verskyn

nie. Ons wil weet hoekom gebeur dit nie en wanneer die probleem die hoof gebied gaan word?”

Stoffberg en Abrahams het vroeër op die Wesfleur-staatshospitaal gefokus, wat baie aandag benodig. Die gemeenskap het ’n lang lys vrae, maar geen antwoorde nie.

Gemeenskapleiers het by WeskusNuus gal gebraak oor die nuwe hospitaalbestuur, wat byna ’n jaar later nog nie met die gemeenskap vergader het oor toekomsplanne en verbeterde dienslewering nie. Sommige eis selfs dat die raad vervang moet word.

Volgens Abrahams is die volgende stap om nasionale ministers na Atlantis te bring sodat die gemeenskap hul misnoeë op die hoogste vlak kan deel. Dit bly egter Genees Atlantis se doel om al die pastore, politieke partye, staatsdepartemente en skole om een tafel te kry, sodat planne gemaak kan word.

Nuut by Atlantis

“Ek is passievol oor die regstelsel en glo in wat reg is,” sê kapt. Estelle Farmer.

Kapt. Farmer het op Donderdag 9 Oktober by die Atlantis-polisie, waar sy haar loopbaan oorspronklik in 1995 begin het, by die speurtak ingeval.

Volgens kol. Mario Thyse is hy opgewonde oor wat sy met haar ondervinding en ervaring na die tafel gaan bring.

Hy is ook opgewonde oor nog ’n nuwe speurder wat ook binnekort by die span sal aansluit.

Volgens Thyse gaan twee uniformlede

ook by die Vispol-span aansluit, wat dit altesaam vier nuwe lede maak.

Kapt. Farmer glo misdaad kan nie die gemeenskap gevange hou nie. “Inwoners het die reg om te loop waar hulle wil en wanneer hulle wil.”

Sy het in 1995 in Atlantis vinnig opgang gemaak en is in 2007 tot adjundant-offisier by die Paarl-kinderbeskermingseenheid bevorder.

Sy het tot 2015 hier gewerk.

“Ek is in 2016 weer aangestel en is in 2022 tot kaptein bevorder.

“Ek het ook in verskillende afdelings van die polisie gewerk en glo met my streng werksetiket kan ek wel ’n verskil maak,” vertel die nuwe speurkaptein.

Kol. Mario Thyse verwelkom Kapt. Estelle Farmer terwyl kapt. Rodney Roos, waarnemende speurhoof, toekyk.

Foto: Murphy Roberts

Kommer oor ‘skurke in blou’

Kommer heers oor beweerde “skurke in blou” nadat meer as R80 000 en ’n iPhone 15 blykbaar verdwyn het.

Volgens ’n betroubare bron het agt gemaskerde mans in polisie-uniform onlangs op ’n plaas in die omgewing toegeslaan.

Die rowers het die plaas op die klein Dassenbergpad om omstreeks 23:00 betree. Hulle het aangevoer hulle is daar vir “perlemoen”.

Volgens die bron het die skurke die inwoners gemartel en beroof.

Die bron het ook aan WeskusNuus vertel dat ’n polisiebakkie en ongemerkte bakkie op ’n afstand geparkeer was. Kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Volgens die bron was dit gewis ’n baie

goed beplande rooftog wat met presisie uitgevoer is. Die bron verklap ook dat die “skurke in blou” gewis nie geweet het van die video-opname wat die bakkie opgeneem het nie.

Intussen het die polisie se teenkorrupsie-eenheid verlede week ’n polisiebeampte in sy kamer by die Atlantispolisiekantoor se perseel in hegtenis geneem. Die polisiebeampte, wat in Tableview werk, is weens beweerde korrupsie aangekeer.

Volgens die bron het die polisielid vermoedelik geld aanvaar van ’n man in aanhouding om seks met ’n vroulike gevange te hê. Die vroulike gevange het ’n klagte van verkragting aangemeld. Die polisielid wat ook verdink word van die verkoop van verklarings by Tableview het glo intussen ’n verplasing na ’n ander provinsie gekry.

Asez jaag beduidende verandering in Atlantis aan

Die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) bevorder steeds volhoubare en inklusiewe groei.

Die werk van Asez se vaardigheidsontwikkeling- en ondernemingsontwikkeling-eenhede binne die geïntegreerde ekostelsel-eenheid ontsluit hierdie groei.

Hul fokus is om sterk verbindings tussen die gemeenskap en nywerheid deur middel van vernuwende en geteikende programme te bou.

Hierdie inisiatiewe maak merkwaardige vordering. Dit verseker dat gemeenskappe en nywerheidsrolspelers ingelig, bemagtig en gereed is om in die groenekonomie te floreer.

ASEZ TALKS

Die vaardigheidsontwikkeling-eenheid het Asez se gemeenskapsbetrokkenheid deur sy vlagskipprogram, “Ons rol in ’n volhoubare toekoms – nie môre nie, maar NOU”, gevestig. Hierdie grondslagwerkswinkel stel deelnemers bekend aan Asez se rol in die groenekonomie en wys hoe individue betekenisvolle bydraes by hulle wonings, in die werkplek en in hul gemeenskappe kan lewer.

Die werksessie dek hernubare energie, groentegnologie asook die Regverdige Energie-oorgang en rus kursusgangers toe met praktiese hulpmiddels om in die alledaagse lewe toe te pas.

Die program is deur Asez ontwerp en word ook deur Asez-personeel aangebied. Dit word voortdurend opgedateer om verwant en betekenisvol te bly.

Deelnemers vertrek nie net meer ingelig nie, maar is ook meer gemotiveerd om volhoubaarheidskampioene te word, wat sal help om ’n veerkragtige en inklusiewe Atlantis-gemeenskap te bou.

Die Ondernemingsontwikkeling-werkstroom het sy Versnellingsprogram bekendgestel en 10 belowende plaaslike KMMO’s op ’n 12 maande lange reis verwelkom.

Die program bied Sakeontwikkelingsdienste, geteikende Opleiding en persoonlike afrigting en mentorskap met die doel om sakegroei te versnel en sakebedrywighede te versterk. Vroeë resultate toon dat deelnemende ondernemings skerper sakevaardighede, groter selfvertroue en hernieude ambisie ontwikkel.

Deur entrepreneurs met ’n gestruktureerde en volhoubare pakket te ondersteun, bou Asez ’n sterker plaaslike ekonomie, wat meer toekomsgerig is en geposisioneer is om voordeel uit geleenthede in die groen sektor te trek.

Saam weerspieël die werk van hierdie eenhede Asez se verbintenis om niemand agter te laat nie. Deur individue met kennis toe te rus en ondernemings met groeihulpmiddele te bemagtig, lê Asez die grondslag vir ’n veerkragtige Atlantis, wat aktief aan die wêreldwye skuif na volhoubaarheid kan deelneem. Tot volgende keer, Matt

- Matt Cullinan
Peter Stoffberg, die omroeper Veema Havinga (Radio Atlantis) en Fiona Abrahams tydens ’n radio-onderhoud oor “Genees Atlantis”. Foto: Murphy Roberts

CONTACT YVETTE SMITH FOR GOOD ADVERTISING DEAL S! 082 482 1117

Yvette.smith@novusmedia co za NM10032786-WU141025

Mamre op die wenpad

Drieëfees in vroue-Top-8

Mamre se vrouerugbyspan het die afgelope Saterdag 11 Oktober hul top-8-uitsp[ele met ’n drieëfees afgeskop.

Die groentruie van Kenny Stadler het in ’n wegwedstryd vir Hexvallei 123-5 afgeransel nadat hulle rustyd reeds 71-0 voor was. Volgens die afrigter Kenny Stadler van die groentruie se vrouespan fokus die span nou eers op die volgende wedstryd en is die uitspele vir eers die laaste ding waaraan hulle nou dink.

“Die span wat Walker Bay, die verdedigende Boland-vrouekampioen, Saterdag tuis pak, sal eers die klipharde neut moet kraak voordat ons aan die uitspele kan dink,” verduidelik hy.

Mamre is in die A-groep met Hexvallei, Walker Bay en Warriors Women in een groep ingedeel is, waar elkeen drie wedstryde speel, waarna die twee beste spanne in die twee groepe vir die halfeindstryd op Bolandpark kwalifiseer, verduidelik Stadler. Die Boland-Top-12 het die naweek gemengde uitslae opgelewer. Saldanha, die Weskus-streekkampioen en voormalige Boland-kampioen, het op sy tuisveld teen Hilcrest United gespeel en 54-36 gewen. Vredenburg was egter ongelukkig om 32-33 teen Roses in ’n wegwedstryd vas te val. Wesbank het op sy tuisveld Vanrhynsdorp met 28-15 geklop terwyl Abbotsdale op sy tuisveld 22 elk teen Delicious gespeel het. Vredenburg onthaal Saterdag (18 Oktober) Wesbank terwyl Saldanha vir hul tweede wedstryd na Abbotsdale reis.

Twee susters van Atlantis, wat hul rugby in Mamre speel, het Boland-vrouerugby se o.20-span tydens die SuidAfrikaanse vrouerugbyweek in Gauteng verteenwoordig.

Die twee – Tereske George (19) en haar ouer suster, Sherazaan George (20) – het gewys Atlantis het hope talent en het ook gewys met die regte leiding is alles moontlik.

Vir dié twee susters van die bendegeteisterde Avondale is spoed nog altyd deel van hul lewe.

Hulle vertel trots dat Tereske ’n uitmuntende atleet en ’n goeie netbalspeler is en maar eers vanjaar begin rugby speel het.

Haar ouer suster, Sherazaan, het reeds in 2023 begin rugby speel.

Die twee susters, wat nie toelaat dat Atlantis se sosio-ekonomiese en maatskaplike probleme hul onderkry nie, droom nou van groen en goud.

Volgens hul afrigter, Kenny Stadler, is hy veral beïndruk met Tereske se spoed. Sy het dit Saterdag (11 Oktober) weer eens bewys toe sy drie drieë gedruk het in die rukkie dat sy as plaasvervanger op die veld gekom het.

Tereske, wat as linkervleuel vir Mamre speel, is ook onlangs in die senior Boland-vroue-oefengroep opge-

Mamre-vroue na rugby SA

Sherazaan George (20) en haar spoedvraatjonger

neem, vertel die afrigter trots. Sherazaan, wat vaskopstut speel, kon weens ’n besering nie aan Saterdag se wedstryd deelneem nie, maar sal hopelik hierdie naweek haar rol kan vervul, sê Stadler.

Duikers hoor oor kreefkwotas; vissers erg ontevrede

Oudergewoonte is daar groot ongelukkigheid oor die regering se jaarlikse aankondiging van die Weskus-kreefkwotas, met baie kleinskaalse vissers wat meen hulle word weer eens agtergelaat.

Vanjaar het die nuwe algehele toelaatbare vangs van 505 ton tot 800 ton gestyg.

Die kommersiële sektor kry egter die grootste hap hiervan, naamlik 400 ton (50%) vir kommersiële vangste in die diepsee en 136 ton (17%) vir kommersiële vangste langs die kus).

Danie Hefers berig in Weslander dr. Dion George, die minister van visserye, het in sy jongste kwotatoekennings egter slegs 240 ton (30%) aan kleinskaalse vissers toegeken. Dit is 136 ton vir bestaansvissers wat naby die kus vang en 104 ton in die diepsee. “Die toename van 58,4% weerspieël ons verbintenis tot

die ekologiese herstel en ekonomiese geleenthede. Ons kan deur ons besluite, wat op die beste beskikbare wetenskap gegrond is, verseker dat hierdie ikoniese vissery vir geslagte wat kom, sal floreer,” het die minister verlede week gesê. Baie bestaansvissers meen egter dit bly net maatskappye

wat baat vind by die kwotas. “Ons suig aan die agterste speen,” is die algemene gevoel. Uit kommentaar op sosiale media oor die kreefkwota-aankondiging is dit duidelik kleinskaalvissers voel in die steek gelaat. Loretta Pheiffer meen dit is waarom mense so kreef steel en Kobie Nieuwen-

huis vra waarom “ryk mense” tonne kan vang en “die arm mense moet daarsonder suffer?”

Nadison Lazarus meen die onregverdige kwotas noop sommige vissermanne om hulself regdeur die jaar aan kreef te help, kwota al dan nie. “Dit is nie lewensvatbaar om ’n hele gesin deur die jaar te voed nie.”

Volgens dr. George toon die kreefbron tekens van herstel, maar sekere maatreëls is steeds nodig om die bron te beskerm. “Die verhoogde kwotas toon die departement se toewyding aan beide ekologiese herstel én ekonomiese geleenthede.”

Ontspanningsvissers kry wéér slegs 12 dae tydens die vangseisoen van slegs vier maande van 15 November 2025 tot 15 Maart 2026 om húl toegelate 24 ton te vang. Dit is 3% meer as die vorige seisoen en volg volgens die regering se eie nuuswebwerf op “die jongste wetenskaplike assessering, wat tekens van herstel in die hulp-

bron toon”. Hoewel die regering met die beperking probeer keer dat Weskus-kreef gedurende biologies sensitiewe tye geoes word en help om stropery te bekamp, meen ontspanningsvissers egter dat die vasstel van die spesifieke dae vir kreefduik sonder insae gekies word, want as die weer of die laagwatertye nie saamspeel nie, gaan die een ná die ander dag vir kreefduik verlore. Pikkie Groenewald meen hulle kan sportduikers ’n bietjie genadiger wees. “Soveel dae speel die [toestande] net nie saam nie.” Op sulke dae kan geen kreef gevang word nie, want dikwels val laagwater ook vóór of ná die toegelate vangtyd. Die departement het belanghebbenes 30 dae gegee om appél aan te teken en kommentaar op die jongste kwotatoekennings te lewer. Skryf aan MLRAAppeals@dffe.gov.za, met ’n afskrif aan CSCapplications@ dffe.gov.za.

‘n Lekker paar krewe oor die kole. Dit bly maar ’n Weskus-gunsteling. Foto: Danie Hefers
suster, Tereske, onlangs in Gauteng tydens die SA vrouerugbyweek.
Tereske ontvang ook haar Boland- o.20-kleure en -uitrusting by die afrigter Thomas Chowles. Die Springbok-7’s-speler Martin Simmers was ook by.
Mamre se vrouerugbyspan het hul uitspeelronde op ’n wennoot afgeskop en fokus nou eers op die volgende wedstryd.
Sherazaan George ontvang haar Boland- o.20kleure en -uitrusting by die afrigter Thomas Chowles en die Springbok-7’s-speler Martin Simmers.

Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.