Vrystaat KROON Woensdag 26 Februarie 2025
GRATIS
Drastiese stappe weens wanbetaling aan Eskom
Skuld wurg MADLI GROBBELAAR Die onderbreking van elektrisiteitstoevoer na die Moqhaka-, Ngwathe- en Nketoanamunisipaliteit weens wanbetaling aan Eskom kan inwoners en sakeondernemings moontlik teen April in die duister laat. Eskom sê ondanks vele onderhandelings om die munisipaliteite tegemoet te kom om hul skuld te vereffen, het die situasie ’n punt bereik waar daar nie meer onderhandel kan word nie. Elektrisiteitstoevoer kan van Donderdag 17 April af verminder, onderbreek of beëindig word. Dié drastiese stappe word gedoen omdat die munisipaliteite hul ooreenkoms vir verskaffing met Eskom oortree het, asook weens die oortreding van lisensiebepalings. Die Moqhaka-munisipaliteit skuld Eskom R1 542 873 536, wat nie Januarie en Februarie se kragrekeninge insluit nie. Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon word deur dié munisipaliteit bedien. Ngwathe se skuld aan Eskom was teen einde Januarie R2 326 524 611. Dié munisipaliteit bedien Parys, Heilbron, Phiritona, Edenville, Vredefort en Koppies. Die Nketoana-munisipaliteit, wat dienste lewer aan Lindley, Petrus Steyn en Reitz, het uitstaande skuld aan Eskom van R837 800 313. Daphne Mokwena, nasionale woordvoerder vir Eskom, het op Maandag 24 Februarie aan VrystaatKroon bevestig dat Eskom streng gaan optree teenoor die munisipaliteite wat nie by hul afbetalingsooreenkomste hou nie.
“Eskom gebruik verskeie maatreëls om agterstallige skuld van munisipaliteite in te vorder. Eskom werk egter ook saam met regeringsfere om ’n volhoubare oplossing vir die munisipale skuld-uitdaging te vind, wat strukturele hervormings vereis,” sê Mokwena. As deel van Eskom se proaktiewe maatreëls en die aktiewe vennootskapveldtog kan Eskom ’n verspreidingsagentskapooreenkoms met ’n munisipaliteit aangaan. So ’n kontrak bied dienste daarop gemik om die volhoubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening in die munisipaliteit te herstel. Dienste sluit in vaardigheidsontwikkeling en opleiding; die vervanging of aanbring van meters; en Eskom wat inkomste namens die munisipaliteit invorder. In sekere gevalle word Eskom egter gedwing om strenger stappe te doen. Dika Kheswa, woordvoerder vir Moqhaka, gee die versekering dat elektrisiteitstoevoer 14 werksdae lank nie onderbreek sal word nie. ’n Dringende beroep word op inwoners gedoen om hul rekening teen 7 Maart te betaal om onderbreking te voorkom. Reëlings rondom agterstallige rekeninge kan getref word. Moqhaka beplan openbare vergaderings om sy standpunt in verband met agterstallige Eskom-rekeninge aan die publiek voor te lê. Eskom het op 12 Februarie ’n kennisgewing in VrystaatKroon geplaas om belanghebbendes van die situasie in te lig. Openbare voorleggings, kommentaar, voorstelle of versoeke kan teen 13 Maart aan Eskom gerig word. Uitsluitsel hieroor sal dan op 2 of 3 April gegee word.
Rede tot dankbaarheid Welkome reën het die afgelope maand oor groot dele van die Noord- en Oos-Vrystaat uitgesak. Hendrik Knobel, Vrystaat Landbou (VL) se streekverteenwoordiger in die Bethlehem-distrik, sê op die plaas Versien buite Bethlehem het hulle vir Januarie ongeveer 108 mm reën gemeet, en vir Februarie tot en met Sondag 141 mm. Anet Roux van die plaas Oktawus buite Bethlehem sê vir Januarie het hulle 112,5 mm gemeet, en vir Februarie 152,5 mm teen Sondag. Len Smith, wat sedert 1991 Kroonstad se maandelikse reënval dokumenteer, sê in Januarie 2023 het hy 50 mm gemeet; in Januarie 2024 omtrent 176 mm; en in Januarie vanjaar 109 mm. Tot 22 Februarie 2023 het hy 205 mm gemeet; in Februarie 2024 ongeveer 48 mm vir dieselfde tydperk; en vanjaar 167 mm. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein voorspel vir die komende week nog reën in die streek. FOTO: HENDRIK KNOBEL
HOËRSKOOL WITTEBERG HIGH SCHOOL
BUILDING CONSTRUCTION
WAAR KREATIWITEIT BLOM!
HOËRSKOOL WITTEBERG bring stories tot lewe! X1YDE9NT-VR260225
Tel: 058 303 5271 | witteberghs.co.za
X1YDC7G2-VR260225