Wednesday, 25 February 2026
GRATIS
Skool se harde werk word beloon
Vreugdevure brand hoog MADLI GROBBELAAR
Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is as die beste presterende akademiese skool in die stedelike afdeling in die Thabo Mofutsanyana-distrik aangewys. Op die geselligheid van die Vrystaatse departement van onderwys om die toppresteerders te vereer, wat vanjaar op Vrydag 20 Februarie plaasgevind het, het Voortrekker met die louere weggestap. Danksy die matriekklas van 2025, wat besonders goed presteer het, het die skool verskeie eerbewyse ontvang, waaronder topprestasies in Afrikaans (huistaal), Engels (eerste addisionele taal), toerisme en wiskunde. Nadat trofeë,
kontantpryse en sertifikate oorhandig is, is Voortrekker as die algehele voorloper in die stedelike afdeling aangewys. Hiermee is die skool opnuut vir sy volgehoue strewe na uitnemendheid beloon, waarop hy met trots oor sy akademiese presteerders kan spog. Benette Brits, adjunkhoof van Voortrekker, het gesê dat die skool elke Gr.12-onderwyser hartlik vir hul harde werk en toewyding bedank. “Ons is opreg dankbaar vir die spesiale eerbewyse en die harde werk van elke leerder en onderwyser wat dit moontlik gemaak het,” het Gys Coetzee, hoof van Voortrekker, gesê. Die departementele geselligheid het by die Bluegumbosch-stadion in Qwaqwa plaasgevind.
Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is die beste presterende akademiese skool in die stedelike afdeling in die Thabo Mofutsanyana-distrik. Met die trofeë is Gys Coetzee (hoof) en Benette Brits (adjunkhoof). FOTO: Verskaf
Buffel-voorval eis veearts MADLI GROBBELAAR Medelye het van oraloor op die sosiale media ingestroom nadat dit bekend geword het dat dr. JW Eksteen van Kroonstad oorlede is. Danie Minnaar, woordvoerder vir die Eksteen-familie, het dié veearts wat wyd bekend en geliefd was se afsterwe op Saterdagoggend 21 Februarie bevestig. Eksteen (51) is op Maandag 9 Februarie ernstig beseer in ’n voorval met ’n buffel op ’n wildsplaas buite Clocolan. Hy is onmiddellik ná die voorval na die spreekkamers van drs. Joubert en Beeton in Clocolan geneem, waar hy behandel en gestabiliseer is. Daarna is hy per helikopter na die Mediclinic Bloemfontein oorgeplaas vir verdere behandeling, tot en met sy afsterwe. Eksteen was ’n bekende in die wildbedryf en was by die Kroonstad-dierehospitaal betrokke. Trio Primêr in Kroonstad het Saterdag medelye op die skool se Facebook-blad uitgespreek: “Met diepe hartseer verneem ons van JW Eksteen se afsterwe. In hierdie moeilike tyd hou ons die Eksteen-familie in ons gedagtes en gebede. Mag julle krag en vertroosting vind in die liefde en ondersteuning
Dr. JW Eksteen (51), bekende veearts van Kroonstad, is Saterdag oorlede nadat hy bykans twee weke in die waakeenheid van Mediclinic Bloemfontein behandel is vir ernstige beserings wat hy opgedoen het in ’n voorval met ’n buffel op ’n wildsplaas buite Clocolan. FOTO: Facebook
van familie en vriende, en mag die kosbare herinneringe aan JW julle dra deur die dae wat voorlê.” Minnaar het versoek dat die familie se privaatheid gerespekteer word en aangedui dat
enige verdere inligting deur toepaslike kanale gekommunikeer sou word. Teen VrystaatKroon se druktyd was nog geen reëlings vir Eksteen se begrafnis bekend nie.
BUILDING CONSTRUCTION
NM10045515-VR250226
NM10045566-VR250226