Skip to main content

Standard E-Edition 19 March 2026

Page 1

Jou vallei - jou nuus

24 hours light & heavy duty towing & recovery

Thursday, 19 Maart 2026 Tel: 023 347 0968

Tel: 023 342 3965, 082 661 4634 or 084 448 2830

NM10050770-BW190326

Kolskoot vir Wildschutt

Adrian Wildschutt, ’n boorling van Ceres, breek deur die wenstreep tydens die New York-halfmarathon. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat dié wedloop wen. Foto: Facebook/Adrian Wildschutt

‘Ockert was pa vir talle’ Rawsonville verloor steunpilaar

Ronél van Jaarsveld

R

awsonville het vandeesweek hartseer afskeid van een van die dorp se jare lange steunpilare geneem.

Wyle Ockert Smit

Ockert Smit van Chrisma Slaghuis is die afgelope Sondag (15 Maart) ná ’n siekte oorlede. Hy woon reeds sedert sewejarige ouderdom op die dorp en het Chrisma Slaghuis by sy ouers, oom Smittie en tannie Kitty, op 28-jarige ouderdom oorgeneem. “Ockert was ’n man van wysheid en integriteit. Hy het ’n lewe geleef wat gekenmerk is deur harde werk, eerlikheid en omgee vir ander. Hy het mense met respek behandel en het ’n diep indruk gelaat op familie, vriende en almal wat sy pad gekruis het. Al is hy nie meer fisies by ons nie, leef sy nalatenskap voort in die waardes wat hy oorgedra het, die liefde wat hy gedeel het en die herinneringe wat ons vir altyd sal koester,” het sy

familie aan Standard gesê. “Ockert was ’n vader vir sy gesin en familie, wat hy geleer het om God te vertrou, so die familie stap aan met alles wat hy in ons harte gelos het. “Hy laat agter sy vrou, Magriet, sy suster, Maggie, 18 kinders in die familie vir wie hy ’n pa-figuur was asook oupa vir hul 16 kinders. Daar is ’n bykomende 16 ‘kinders’ – sy werksmense wat deel van die familie geword het. “Ons is baie dankbaar vir die begrafnisdienste wat ons met deernis deur die proses gehelp het, asook vir Johein Visser en Carina Jacobs van die nooddienste wat ons met soveel respek en liefde behandel het,” het een van Smit se dogters Jo-Ann Janse van Rensburg gesê. “Met groot hartseer neem ons afskeid van Oom Ockert, ’n ware legende van Rawsonville. Oom Ockert was nie net ’n bekende gesig in ons dorp nie, maar iemand wat oor baie jare ’n groot rol gespeel het in die bou van ’n gemeenskap waar mense mekaar ken, ondersteun en

respekteer,” skryf Die Stalle-restaurant op Facebook. “Vir ons by Die Stalle was Oom Ockert ook deel van ons storie. Die vleis wat ons met trots by Die Stalle bedien, kom van Oom Ockert se slaghuis – Chrisma Slaghuis. Sy passie vir kwaliteit, harde werk en trots in sy werk was iets wat almal kon sien en waardeer. Maar vir ons was hy meer as dit. Ons gaan Oom Ockert se kuiertjies hier by Die Stalle, sy stories en al die mooi oomblikke wat ons saam gevier het baie mis.” Die Eike-restaurant het ook sy eer betoon: “Ockert Smit was soveel meer as net die man agter Chrisma Slaghuis, hy was ’n bekende en geliefde gesig hier by ons by Die Eike. Met sy rustige teenwoordigheid kon hy mense tuis laat voel. Hy het nooit gehuiwer om ’n helpende hand uit te steek waar daar nood was nie. Ons harte en gebede is by sy familie, vriende, personeel en die hele gemeenskap. Mag die diep wortels wat hy geplant het nog lank voortleef in die mense en plekke wat hy aangeraak het.” ◘ Smit se lewe word komende Sondag (22 Maart) om 11:00 by die Stalle-restaurant in Rawsonville gevier.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Standard E-Edition 19 March 2026 by Novus Media - Issuu