Donderdag, 12 Junie 2025 Tel: 023 347 0968
Jou vallei - jou nuus
24 hours light & heavy duty towing & recovery
Tel: 023 342 3965, 082 661 4634 or 084 448 2830
NM10014811-BW120625
Nat strate en sneeu op die berge Die eerste wintersneeu het die afgelope naweek op bergpieke in die Breedevallei en Langeberg geval. Goeie reën het ook uitgesak, met inwoners in Tulbagh wat 45 mm gemeet het, 60 mm buite Worcester in die Botha-omgewing en meer as 30 mm in die dorp self. Foto: Ronél van Jaarsveld
Vol rivier gryp vrou van brug Ronél van Jaarsveld
Die groot soektog na ’n jong vrou wat Saterdag (7 Junie) in ’n rivier in Slanghoek beland is, is afgelas nadat haar liggaam Maandagmiddag (9 Junie) gevind is. Die vrou is glo meegesleur nadat sy oor ’n laagwaterbruggie oor die Breërivier wou loop. Die rivier het sterk gevloei en oor die brug gespoel nadat goeie reën die naweek geval het. Julene van Wyk (24) en haar 20-jarige suster, Samantha, was op pad om dié se mansvriend te ontmoet wat van Ceres af sou kom. Die twee vroue het deur die water oor die laagwaterbruggie geloop toe die stroom Julene meesleur. Samantha het haar hand gegryp en self in die water beland, het AO Vathiswa Jacobs, woordvoerder vir die Worcester-polisie,
Liggaam ná groot soektog gevind gesê. Die twee vroue is stroomaf waar die jonger suster ’n tak kon vasgryp. Sy was egter nie sterk genoeg om haar greep op haar suster se hand te behou nie en die water het haar gevat. Samantha het aan die Worcester-polisie gesê sy kon uit die water kom, maar kon nie meer haar suster sien nie. Sy is na die plek toe wat sy gedink het haar vriend sou wees om te keer dat hy ook die water probeer oorsteek, en om hulp te kry. Die twee kon ’n verbygaande verkeersbeampte se aandag trek en hy het hulp ontbied. Die soektog na Julene is tydelik opgeskort toe weerstoestande versleg het en die water gevaarlik sterk geraak het,
maar is later weer voortgesit deur ’n reddingspan van die nooddienste, polisie en duikspanne. Hommeltuie is ook ingespan om haar te probeer opspoor. Volgens berigte is Julene se liggaam sowat 2km stroomaf deur die soekspanne gevind. Meegevoel met die familie ná hierdie tragiese voorval het van wyd af ingestroom. Antoinette Steyn, uitvoerende burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, het op Facebook geskryf: “Die ontydige verlies van ’n lewe, veral onder sulke hartverskeurende omstandighede, laat ’n leemte wat ons nie met woorde kan vul nie. Namens die raad en die hele gemeenskap bied ek ons gesamentlike ondersteuning en gebede aan die familie
in hierdie tyd van rou.” Billy Claassen van die landelike en plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie het die gesin tydens die soektog ondersteun. Volgens hom het hulle ook hul ma net vier maande gelede verloor en is die gesin erg getraumatiseer. Hy het gereël dat maatskaplike dienste hulle ondersteun. Daar is al dikwels oor soortgelyke voorvalle berig en bewusmaking word jaarliks gedoen, veral onder skoolgaande kinders, om nie laagwaterbrûe te probeer oorsteek wanneer dit onder water is nie. Die stroom is dikwels sterker as wat ’n mens verwag. In 2023 is die 34-jarige Vasti le Roux, ’n haarkapper van Paarl, ook dood nadat sy op ’n staproete in die Dassieshoek-natuurreservaat naby Robertson in ’n vol rivier beland het en meegesleur is. Haar liggaam is ure later deur reddingspanne gevind.