6 Maart 2025 - 12 Maart 2025
GRATIS | FREE
Nuus net vir jou sedert 1950
44 Years at your service • All work guaranteed • Quality maintenance • New installations
021 887 2155
NM10002131-EN060325
‘Sy is hemel toe’ Tiener glo deur kêrel geskiet
Yaël Malgas ’n Cloetesville-familie treur oor die verlies van hul jongste suster nadat sy op die eerste aand van Ramadaan doodgeskiet is. Wakeena Arnolds was Saterdagaand (1 Maart) by ’n partytjie toe die 17-jarige vermoedelik deur haar kêrel in die gesig geskiet is. Volgens haar oudste suster is dit die laaste ding wat hulle verwag het toe haar jongste sus die aand uit die huis is. “Keena het so mooi gelyk in haar wit en blou daardie aand. Sy was so lief vir hom; hulle was vir langer as ’n jaar saam, en blykbaar was haar laaste woorde dat niemand hom moet seermaak nie,” vertel Kashiefa Arnolds. Wakeena het saam met Kashiefa en hul twee broers in Cloetesville gewoon. Hul ouers is albei reeds dood en Kashiefa was amptelik haar “Noenie” se voog. Sy vertel die gesin se baba het vele planne gehad en wou vanjaar terugkeer skool toe om haar matriekjaar te voltooi. “Die lewe was maar moeilik vir haar. Sy was so jonk toe ons Pa en toe Ma verloor het, maar ten spyte daarvan wou Keena iets van haarself maak. Sy kon nie goed hoor nie en was in ’n vaardigheidskool in Paarl met my ma se dood. Dit was ’n harde slag vir haar – hulle was baie na aan mekaar aangesien sy die laatlammetjie was. Sy het aanvanklik ophou skoolgaan, maar Keena het gesê ons moet Maandag na Ou Lückhoff gaan sodat sy kan registreer om haar graad 12 klaar te maak.” Shahied Arnolds, Keena se oudste broer, sê sy sus was ’n bobaas-bakker en het planne gehad om ’n sjef te word. “Om eerlik te wees – ek was soms ’n bietjie bang vir haar, want sy kon haar man staan. Maar Vrydag was ons twee alleen en ons het na ‘Jealous of the Angels’ geluister vir die eerste keer in ’n lang ruk. Dat dit daardie liedjie van alles is, is vreemd,” meen Shahied. Die gesin was Saterdagaand by die huis toe Keena om die draai na die par-
Shahied en Kashiefa Arnolds, die broer en suster van wyle Wakeena Arnolds, wat verlede Saterdag in Cloetesville doodgeskiet is. FOTO: Yaël Malgas
tytjie is. Later was daar ’n geraas buite en Kashiefa het die huis ingehardloop gekom om te sê Keena is geskiet. “Hier is gereeld ’n skietery hier buite, iets wat aan die gang is, maar ons het dit nie verwag nie. Ek het gehardloop om te gaan kyk en ek het nog nooit só iets gesien nie,” vertel Shahied oor waar sy suster in die huis gelê het. Die Cloetesville-polisie het bevestig ’n verdagte (22) is in verband met die voorval aangekeer. Volgens AO Zenobia Sedeman, ’n woordvoerder vir die Cloetesville-polisie, word die saak ondersoek. Enigeen met inligting oor die besonderhede van die voorval word versoek om die ondersoekbeampte AO Quentin Williams by 079 894 0188 te bel. Sedeman het bevestig die verdagte
sal weer op 11 Maart in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. “Sy is weggevat van ons – nie net ’n suster nie, maar ’n beste vriendin. In die afgelope dae het ek ’n paar keer gedink ek het haar gefaal, maar dan dink ek hoe sy weggeruk is ... geregtigheid moet nou geskied. Ek het vrede gemaak met die feit dat sy weg is, want dit gaan haar nie terugbring nie, maar geregtigheid moet geskied,” sê Kashiefa. Een vertroosting vir die familie is dat Wakeena in die heilige maand van Ramadaan dood is. Shahied weet in hierdie heilige tyd is al sy suster se sondes weggewas en sy is reguit Jannah (hemel) toe. Wakeena is verlede Sondag ooreenkomstig die Moslem-gebruik ter ruste gelê.
SBM help só met Sassa Die Stellenbosch-munisipaliteit het uitgereik om inwoners met hul nuwe Sassa-kaarte te help. Plaaslike begunstigdes wat ’n staatstoelae ontvang, het nou kans om hulp by verskeie punte naby hulle te ontvang om van die ou, goue Sassa-kaart na ’n nuwe kaart oor te skakel. Die Stellenbosch-burgemeester, Jeremy Fasser, het in ’n verklaring bevestig hulp vir Stellenbossers sal by plaaslike munisipale persele beskikbaar wees. Die oorskakeling na nuwe kaarte is vir veral plaaslike begunstigdes ’n frustrasie aangesien hier nie ’n plaaslike kantoor van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) is nie. Eikestadnuus het onlangs berig oor inwoners wat na Klapmuts moes reis om hul nuwe Postbank-kaarte te ontvang. Die vervanging van kaarte volg nadat Sassa aangekondig het die huidige goue kaarte geld slegs tot die einde van Februarie. Dié sperdatum is ná ’n nood-kreet van begunstigdes en uit talle ander oorde na einde vandeesmaand verleng. Die munisipaliteit het nou ’n plan gemaak om plaaslike inwoners vinniger te help. “Om hierdie [vervanging van kaarte] te vergemaklik, het die munisipaliteit verskeie lokale reg oor Stellenbosch beskikbaar gestel om te verseker dat inwoners toegang tot Sassa-dienste nader aan die huis kan kry. Hierdie inisiatief is in reaksie op aansienlike vertragings wat Sassa ondervind, lang rye by sekere plekke en die las van langafstandreise, wat baie inwoners in die gesig gestaar het om hul nuwe kaarte te bekom.” Hy het bygevoeg hoewel Sassa se dienste deur die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling val, tree die munisipaliteit in om sy inwoners te help. Begunstigdes kan hier hulp kry: • Khayamandi-korridor, Vrydag 7 Maart tussen 08:00 en 17:00; • Elsenburg JJ Rhoode, Maandag 10 Maart tussen 08:00 en 17:00; • Vlottenburg VGK kerksaal, Woensdag 12 Maart tussen 08:00 en 17:00; • Lanquedoc, Pniël, Kylemore – klubhuis, Donderdag 13 Maart tussen 08:00 en 17:00; • Franschhoek-stadsaal, Donderdag 14 Maart tussen 08:00 en 17:00; en • Jamestown en Raithby – Methodiste kerksaal, Raithby, Donderdag 14 Maart tussen 08:00 en 17:00.