7 Mei 2026 - 13 Mei 2026
GRATIS | FREE
Nuus net vir jou sedert 1950
46 Years at your service • All work guaranteed • Quality maintenance • New installations
021 887 2155
NM10057233-EN070526
Inwoners van Jamestown het op Werkersdag (Vrydag 1 Mei) ’n optog na die Stellenbosch-stadsaal gehou om hul ongelukkigheid oor verskeie kwessies uit te spreek. Foto: Yaël Malgas
Jamestown lug sy griewe ‘Gentrifikasie verniel plaaslike kultuur’
Yaël Malgas Jamestowners het die afgelope Vrydag (1 Mei) na die Stellenboschstadsaal opgeruk om hul ongelukkigheid oor gentrifikasie, noodbehuising en verskeie ander kommerwekkende kwessies in die dorpie aan die Stellenbosch-munisipaliteit bekend te maak. Presies 124 jaar nadat die eerste huurkontrakte vir Jamestown onderteken is, het inwoners gesê hulle is moeg om te sien hoe die erfenis, kultuur en geskiedenis weens buurtopknapping en ontwikkeling verlore gaan. Jamestowners en ondersteuners uit ander buurte het op Die Braak byeengekom en met plakkate deur die dorp geloop. Volgens gemeenskapslede is veral behuising en die beplande
supermark in die buurt kwelpunte. “Die hele dinamika van Jamestown is aan die verander,” verduidelik die boorling Joylene Smith. “Die half-landelike atmosfeer wat ons geniet, is besig om te verander en ek is oortuig oor vyf jaar gaan ons nie die Jamestown van ouds herken nie. Dit wat ons voorouers beskerm het, is nou vir ons om vir ons kinders te beskerm.” Inwoners meen ontwikkeling moet nie ten koste van die dorpie se geskiedenis van landbou, samesyn en ’n gemeenskapsdinamika, waar almal mekaar se naam ken, geskied nie. Chrisben February, die voorsitter van die Jamestown-erfenisorganisasie, sê hul dorpie is onder toenemende druk na aanleiding van hoëdigtheidveiligheidskomplekse en ander ontwikkelings. “Hierdie ontwikkelings het ’n
ernstige finansiële uitwerking met aansienlike hoër munisipale tariewe wat veral die middel- en lae-inkomste erfhouers raak. Vir landbou-erfhouers bedreig dit ons voortbestaan aangesien boerdery eenvoudig onbekostigbaar raak,” verduidelik hy. ’n Groot deel van Jamestown se erfenis is die gewilde aarbeifees. In aanloop tot vanjaar se fees hou die gemeenskap maandeliks ’n straatmark, maar hierdie gemeenskapsprojek word deur munisipale tariewe bedreig. Die munisipale voorskrifte om die straatmark aan te bied, beteken Jamestowners moet sowat R15 000 per geleentheid opdok – geld wat die gemeenskap nie kan bekostig nie. Die mark-kommitee werk nou om borge en vennote vir beide die straatmark en fees te vind. Die munisipaliteit se onlangse bevestiging dat Mountain View in Jamestown amptelike ’n gebied vir noodbehuising is, is nog ’n kwelpunt.
.
Na bladsy 3.
Inwoners se eise: • Staak onmiddellik enige verdere hervestigings na Mountain Breeze-woonwapark en Mountain View/plaas 527. • Verskaf volledige regsverklarings en prosedurele verduidelikings vir die hervestigings wat reeds onderneem is, asook bewys dat daar aan al die amptelike studies wat vereistes van die Noodbehuisingsbeleid vir die Mountain View Temporary Relocation Area (TRA) nakom, voldoen is. • Staak die voorgestelde uitbreiding van tydelike verblyf in Mountain View hangende ’n wettige, deursigtige en gemeenskapsinsluitende proses. • Erken en beskerm Jamestown se kulturele erfenis, onder meer deur formele erfenisaanwysing en gemeenskapsgerigte beplanning. • Onmiddellike onderhandelings met die burgemeesterskomitee om tariefongelykhede wat deur gentrifisering veroorsaak word, aan te pak. • Implementeer ’n regstellingsplan om die agteruitgang van infrastruktuur, dienste en omgewingsgehalte van Wyk 21 aan te pak. • Verbind die munisipaliteit tot gestruktureerde, deurlopende betrokkenheid met Jamestown-inwoners, insluitend kwartaallikse openbare vergaderings.