7 Augustus 2025 - 13 Augustus 2025
GRATIS | FREE
Nuus net vir jou sedert 1950
NM10023203-EN070825
US bevestig waaraan Matie (19) dood is
Parkeerplan: groot twis
Wyle Chris Scheffer (19).
Yaël Malgas Ná die dood van ’n Matie weens brein- vliesontsteking is sommige Stellenbos- sers van plan om die meningokokkeentstof te neem. Dit nadat die Universiteit Stellenbosch (US) bevestig het Chris Scheffer (19) is dood weens breinvliesontsteking. Scheffer is Saterdag (2 Augustus) dood in sy kamer in die Dagbreek-koshuis gevind nadat klasmaats hom glo verlede Donderdag laas gesien het. Die Stellenbosch-polisie het bevestig geen misdaad word vermoed nie en hoe-wel die lykskouing voltooi is, kon die oorsaak van dood nog nie bevestig word nie. Die US het egter Dinsdag (4 Augustus) laat weet die universiteit werk nou saam met die Wes-Kaapse departement van gesondheid om te verseker almal wat die 10 dae voor sy dood met Scheffer in kontak gekom het, opgespoor word sodat voorkomende medikasie aan hulle gebied kan word om die moontlikheid van breinvliesontsteking te verminder. Scheffer was ’n tweedejaar-teologie- student wat deur sy familie en vriende as ’n sonskyn-mens beskryf word. Grant Leukes, koshuishoof van Dagbreek, beskryf Scheffer as ’n energieke jongman wat die afgelope twee jaar ’n groot rol in Dagbreek se sêr-groep gespeel het. “Hy was betrokke by koshuise en was lief vir die gemeenskap waarin hy gebly het. Ons sal hom almal baie mis en ons betuig ons innige
meegevoel aan sy familie,” sê Leukes. Medelye vir die jong man het ingestroom met vele wat sy passie vir sy geloof en musiek uitgelig het. Oor Scheffer, oorspronklik van Riebeek-Wes in die Swartland, skryf ds. Quentin Minnaar, leraar van VGK Malmesbury: “Hy het geleef as een wat gesoek het. Hy sterf as een wat gevind is. Hy het diep gesmag soos hy gesing het: ‘Eintlik smag ek na waters van rus. Lei my, Heer, vandag daarheen’. Hy is nie weg nie. Hy is tuis. Tuis by die Soeker wat hy sy lewe lank gesoek het.” Intussen het die US gesê geen ander gevalle van breinvliesontsteking is aangemeld nie, maar die situasie sal gemonitor word. Volgens Sandra Maritz, woordvoerder vir die departement, dra altesaam 5% van die bevolking die bakterieë sonder om noodwendig siek te word. “In sommige gevalle ontwikkel die individu meningokokkale septisemie wat ernstige siekte in ’n relatief kort tydjie kan veroorsaak. Simptome sluit in ’n hoë koors, pynlike gewrigte en ’n algemene ongesteldheid. Simptome by babas kan insluit ’n hoë koors en ’n onwilligheid om te voed,” verduidelik sy. Inwoners en studente wat mediese hulp nodig het, kan kampusgesondheidsdienste by 021 808 3493/6 (kantoorure) in kontak; ER24 by 010 205 3032 (na-ure), Stellenbosch-hospitaal by 021 808 6100 of Mediclinic Stellenbosch by 021 861 2094 (noodgevalle).
‘Steeds in beplanning’ Yaël Malgas Om die huidige stand van die Stellenbosch-munisipaliteit se beplanning vir ’n multiverdiepingparkeerplek enigiets anders as ’n fase van publieke-private-vennootskap (PPP) te noem, is om dié kwessie ’n status te gee wat dit nie toekom nie. So meen die Stellenbosch-belangegroep (SBG) nadat die Stellenbosch-munisipale raad verlede Woensdag (30 Julie) ’n item ter tafel gelê het wat ’n belangstellingsverklaring vir die projek goedgekeur het. In ’n poging om die voortslepende verkeersprobleme en tekort aan parkeerplek in die Eikestad-middedorp aan te pak, het die plaaslike munisipaliteit ondersoek ingestel om te kyk hoe lewensvatbaar ’n multiverdiepingparkeerplek agter die stadsaal sal wees. Die eerste weergawe van die munisipaliteit se planne is in September 2017 van stapel gestuur met die destydse raad wat ’n ondersoek na ’n “interne parkeringsdiens” begin het. Sedertdien het die munisipaliteit besluit om op ’n parkeerplek te fokus. Verlede jaar, tydens ’n openbaredeelnameproses, het teenkanting vanuit verskeie oorde, onder andere die Young Urbanists en die SBG, gekom, met ’n petisie wat ook opgestel is. Die petisie het meer as 3000 handtekeninge bevat.
’n Grafiese Grafiese voorstelling van hoe die multiverdiepingparkeerplek mag lyk.
Die beplanningsproses het voortgegaan en ’n lewensvatbaarheidstudie vir die projek is in Augustus 2024 goedgekeur. ’n Verkeersimpakstudie is ook saamgestel. Volgens Reginald Pheiffer, raadslid en burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur, sal die belangstellingsverklaring gebruik word om die mark te toets en inligting te versamel. “Die doelwit is dus om die markbelangstelling in die Eikestad PPP-geleentheid te peil en die kapasiteit en gereedheid van die potensiële privaatsektorvennootskap te beoordeel. Dit is om tegniese insigte en innoverende voorstelle in te samel wat die projekstruktuur kan verbeter en wetlike en regulatoriese risiko’s vroeg en proaktief te identifiseer,” sê Pheiffer. Jacobus Davids, ANC-raadslid, meen ’n holistiese benadering moet gevolg word om die dorp se verkeersprobleme op te los. Davids moedig die munisipaliteit aan om oplossings binne die bestaande ruimtelike ontwikkelingsraamwerk, die meesterplan vir nie-gemotoriseerde vervoer en die geïntegreerde vervoerplan, te vind. “[Die parkeerplek] is maar een van verskeie opsies...ons moet dit nie uit die oog verloor nie, want daar is reeds raadsbesluite en beleid aanvaar. Ons moet hi-
erdie monster baie gebalanseerd en ingelig benader en die harde werk wat reeds gedoen is in ag neem, omdat ons ook baie versigtig is vir publieke-private-vennootskappe, wat met sy eie uitdagings kom,” sê Davids. Die speaker, Quintin Smit, het uitgelig dat die projek steeds in sy beplanningsfase is. “Ons moenie die publiek deurmekaar maak met wat ons sê nie,” sê Smit. “Kom ons verstaan die proses en waar ons daarmee trek. Wanneer ons dan ’n openbaredeelnameproses het, en as die munisipaliteit sy deure oopmaak vir kommentaar, dan sê ons ‘bring jou kommentaar’ en gebaseer op petisies en insae, neem ons ’n besluit.” Die SBG stem egter nie saam nie. In ’n verklaring het die organisasie vandeesweek gesê hoewel die belangstellingsverklaring elemente van openbare deelname het, stel die nasionale tesourie dit duidelik dat dit vroeg in die projekbeplanning moet plaasvind. “Ons moes nooit hierdie stadium bereik het om ’n belangstellingsverklaring uit te reik nie – veral nie vir die voorgestelde parkeergarage nie. Na bladsy 2.