Skip to main content

Eikestadnuus - E-Edition - 28 August 2025

Page 1

28 Augustus 2025 - 3 September

GRATIS | FREE

Nuus net vir jou sedert 1950

NM10023203-EN210825

Kurator sterf op berg Hulde aan Kirkwood as groot bewaarder

Yaël Malgas Reddingswerkers het gisteroggend (Woensdag 27 Augustus) gereed gemaak om ’n stapper te vind wat die vorige dag in die Jonkershoeknatuurreservaat na sy dood geval het. Reddingswerkers en polisiebeamptes van Stellenbosch was Woensdag op die toneel nadat ’n man Dinsdag geval het toe hy en ’n groep plantkundiges na orgideë op soek was. Beamptes van die Wes-Kaapse mediese nooddienste het by navraag gesê hulle werk om die slagoffer se oorskot van die berg af te kry. Verdere besonderhede sou verskaf word wanneer die reddingsoperasie voltooi is. Die oorledene is prof. Donovan Kirkwood, kurator van die Universiteit Stellenbosch (US) se botaniese tuin. Kirkwood het in 2018 die leisels van die tuin oorgeneem en het sedertdien hard gewerk om onder meer te verseker dat wilde en bewaringsgraad-plantversamelings behoue bly. Kirkwood het destyds met sy aanstelling aan Eikestadnuus gesê hy was veral opgewonde om sy liefde vir biodiversiteitsbewaring en die kweek van plante te kombineer. Dié hoogs ervare plantkundige was Dinsdag saam met internasionale besoekers van die Cambridge Universiteit se botaniese tuin en Amazon Horticulture. Die US het in ’n verklaring bevestig Kirkwood en sy kollegas, saam met beamptes van CapeNature, was op ’n bewaringsuitstappie om die Penaea formosa, ’n kritiek bedreigde plantspesie, te ondersoek en te versamel. “Donovan was uniek, met ’n passie vir bewaring en opvoeding. Hy was ’n geliefde kollega en leier van sy span. Ons innige meegevoel gaan aan sy familie, vriende en kollegas,” sê Hein Swanepoel, senior direkteur van Suncom en Kirkwood se lynbestuurder. Volgens ’n kollega, Anita Nel, die hoof van vernuwing en kommersialisering, is dit nie net die US wat Kirkwood se verlies

Nooddienswerkers was gisteroggend op die toneel by die Jonkershoek-natuurreservaat waar prof. Donovan Kirkwoord (inlas), die kurator van die Universiteit Stellenbosch se botaniese tuin, Dinsdag na sy dood geval het. Foto: Francois Lombard

sal voel nie, maar die hele land. “Donovan het die bewaring van byna uitgestorwe plantspesies passievol nagestreef en ’n enorme bydrae tot die bewaring en herstel van seldsame plantspesies gelewer – veral binne die Kaapse floristiese streek, een van die wêreld se grootste biodiversiteitsbrandpunte. Omdat hy geglo het dat die kleinste tuin ’n wêreldwye impak kan hê, het sy toewyding aan vernuwing en bewaring die maatstaf vir akademiese botaniese tuine reg oor die wêreld gestel,” sê Nel. Onder sy leierskap het die plaaslike botaniese tuin ’n bewaringshub vir Kaapse flora – veral fynbos – geword.

Die US beskryf Kirkwood as “aangenaam, vindingryk en altyd bereid om sy kennis te deel en ’n positiewe [bydrae te lewer]”. Kirkwood het gewerk om die geskeidenis van die botaniese tuine te behou en teruggegaan na die oorspronklike, geskiedkundige uitleg van die tuin. Professore Léanne Dreyer en Nox Makunga van die departement plantkunde en dierkunde sê in die paar jaar wat Kirkwood by die botaniese tuin betrokke was, is dit van ’n pragtige plek na ’n “lewendige, wetenskaplike voorpunt en polsende, fantastiese wetenskaplike sentrum van uitnemendheid” omgeskep. “Don was enigmaties, entoesiasties,

kleurvol, vriendelik en uiters talentvol met ’n ongelooflike passie vir plantkunde en bewaring. Ons harte is seer, maar ons sal vertroos word deur die wete dat hy selfs in sy laaste oomblikke van lewe gedoen het wat hy absoluut met sy hele hart liefgehad het. “Hy sal baie gemis word en ons opregte meegevoel aan Rosie, sy pa en die res van sy binnekring. Ons verbind ons daartoe om sy nalatenskap te eer en sy visie by die US- Botaniese Tuin te handhaaf,” sê hulle. Teen druktyd was die reddingsoptrede om Kirkwood se oorskot van die berg af te kry, steeds aan die gang.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook