Skip to main content

Bloemnuus E-edition 12 Junie 2025

Page 1

Donderdag 12 Junie 2025

Tel: 051 404 7600

GRATIS

’n Afvaardiging van die departement van onderwys het die Martie du Plessis-skool Maandag besoek en saam met personeel gebid vir die veilige terugkeer van die ontvoerde Kamogelo Baukudi (19). Foto: Lientjie Mentz

‘Ons bly hoop, Kamo’ LIENTJIE MENTZ ’n Polisieman (42) het op Maandag 9 Junie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn en bly in aanhouding totdat hy op 13 Junie om borgtog kan aansoek doen. Dit kom nadat ’n leerling aan die Martie du Plessis-skool, Kamogelo Baukudi (19), op Donderdag 5 Junie ontvoer is. Omstandighede rondom sy ontvoering is steeds duister, en die polisie se ondersoek duur voort. Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het Maandag gesê die sersant wat in verband met die ontvoering in die hof verskyn het, se naam mag nie bekend gemaak word nie omdat die ondersoekspan dit deur die hof afgedwing het. Die provinsiale kommissaris van polisie in die Vrystaat, lt.genl. Baile Motswenyane, het bevestig dat die polisie daartoe toegewy is om

die waarheid agter dié misdaad oop te vlek. Kamogelo, ’n gr.11-leerling, is Donderdag by die skool opgelaai en was omstreeks 11:30 in ’n Suzuki Ertiga in Vereenigingrylaan onderweg. Die insittendes van ’n wit Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie, wat die indruk geskep het dat dit ’n polisievoertuig is omdat dit onder meer met blou ligte toegerus is, het die bestuurder van die Ertiga van die pad laat aftrek. Hulle het beweer dat die voertuig waarin Kamogelo vervoer is, met dwelmhandel in verband gebring kan word en het Kamogelo in die bakkie gelaai en die bestuurder beveel om na die Parkweg-polisiekantoor te ry. Kamogelo is nog nie weer gesien nie. Sy selfoon en dié van die klaer is later onder die brug op die Ferreirapad gevind. Onderwysers en leerlinge aan Martie du Plessis was Maandag steeds in skok oor die verdwyning. Adv. Tsoarelo Malakoane, departementshoof van onderwys in die Vrystaat, het die skool op dié dag besoek en

’n nuuskonferensie gehou. Francois van Heerden, hoof, sê hy het nooit gedink dat hul skool in so ’n situasie sou wees nie. “Ons as skool wil net op twee dinge fokus: Ons wil drome van leerlinge herbou; en hulle bemagtig vir die toekoms,” het hy gesê. “Dan kom jy by ’n punt soos vandag waar ons weet al wat ons regtig het, is hoop. As ons hoop verloor, verloor ons alles. Ons hoop dat Kamo sal terugkom.” Malakoane het gesê die beste wat almal kan doen, is om vir Kamogelo se gesin en vir hom te bid. Enigeen met inligting kan lt.kol. Kelaotswe Lebodi by 082 527 6348 of kapt. Sabata Jafta Moseme by 082 526 2713 bel; of 08600 10111. Kamogelo Baukudi (19), wat sedert verlede week vermis word. Foto: Verskaf


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Bloemnuus E-edition 12 Junie 2025 by Novus Media - Issuu