Skip to main content

Bloemnuus 12 February 2025

Page 1

Bloem

Donderdag 16 Januarie 2025

NUUS NEWS

Tel: 051-404-7600

netwerk24.com – Streeknuus

Bekende sakeman se lewe en invloed op ander gevier

Groot gees is weg LIENTJIE MENTZ EN KAREN HERBERT Die lewensviering van die sake­reus en entrepreneur Jacques Strydom (54) vind Sondag by Be Human op Middelwater plaas. ’n Viering, want Jacques was bekend as ’n man wat die lewe met oorgawe geleef het. Hy is op Vrydag 7 Februarie oorlede terwyl hy en sy vrou, Marica, by vriende in Victoria-Wes oornag het. Jacques, sy dogter Jazelle uit ’n vorige huwelik, en Marica sou almal aan ’n saalperdskou in dié Karoo-dorp deelgeneem het. Jacques was die kleinkind van wyle Barnie Human, wat die Human Auto-groep in 1950 in Bloemfontein begin het. Jacques was die derde geslag in beheer van dié familie-onderneming. Human Auto het die Fordagentskap in die Vrystaat en Noord-Kaap, met takke in Bloemfontein, Welkom, Ficksburg en Kimberley. Sy oom was Callie Human, wat as skoolleerling in ’n motorfiets­ongeluk oorlede is en na wie die Callie Human-sentrum op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) genoem is. Jacques het die afgelope jare Be Human op die plaas Middelwater buite Bloemfontein ontwikkel tot ’n gewilde bestemming waar kunstenaars gereeld optree. Dié plaas was ’n groot passie vir hom, en hy het voortdurend nuwe geriewe hier ontwikkel. Benewens sy uitstekende sakevernuf, sal Jacques onthou word as iemand met ’n omgeehart vir sy medemens. Sy ander dogter, Chrisel Strydom, sê haar pa was ’n ongelooflike man. “Ons besef nou eers die invloed wat hy op die gemeenskap gehad

het. Hy was baie lief vir ons en ons was baie lief vir hom.” Ronelle van Rensburg, Jacques se een suster, sê hulle was ’n klein, maar hegte, gesin. “Ons harte is baie seer. Ek was baie lief vir hom.” Sy sê sy het groot waardering en bewondering gehad vir sy sakevernuf en sy ongelooflike kreatiwiteit. Wat sy van hom sal onthou, is hoe hy altyd ’n ding op sy manier gedoen het. “Hy het altyd ’n plan gesien lank voordat ander daaraan gedink het.” Pine Pienaar, groep- uitvoerende bestuurder van Human Auto en vriend van Jacques, sê hy gaan hom baie mis. “Sy visie vir sakebedrywighede en alles waaraan hy sy hand geslaan het, was vir my ’n inspirasie. Niks was ooit te veel vir hom om vir die gemeenskap te doen nie.” Op die grootste manne-aand wat die Vrystaat tot nog toe gesien het, het Jacques homself onmiskenbaar gewys as ’n man wat nie net vir sy besigheid geleef het nie, maar ook vir die mense. Hy het teen Dricus du Plessis, wêreldkampioen in gemengde ­gevegskuns, geveg om geld vir die Hoërskool Pres. Steyn in te samel – ’n daad wat sy hart vir die gemeenskap weerspieël het. Chrisel sê sy het opgekyk na haar pa. “Ek weet nie wie ek is sonder hom nie.” Jacques word ook oorleef deur sy ma, Christa, en sy ander suster, Therése Delport. Die lewensviering vind op Sondag 16 Februarie om 11:00 by Be Human op die plaas Middelwater plaas. Die familie vra dat almal vrolik en kleurryk aantrek.

Marica en Jacques Strydom.

FOTO: VERSKAF

· 42 km · 21 km · 10 km · 5 km Fun Run

ENTRIES NOW OPEN In association with the Louzanne Coetzee Foundation & Bloemfontein Striders

Online entries: www.mimosamall.co.za

GRATIS

Video’s: Polisie in slegte lig LIENTJIE MENTZ Die man wat op Sondag 9 Februarie ’n video van polisielede in die Bainsvlei-polisiekantoor geneem het nadat hulle hom na bewering nie wou help deur ’n verklaring by hom af te neem nie, het met die polisie kontak gemaak. Die video, wat wyd op die sosiale media versprei het, wys hoe polisielede ontsteld reageer toe die man hulle afneem nadat hulle hom en sy vrou blykbaar nie wou help nie. Volgens brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het die man en vrou na die polisiekantoor gegaan om ’n verkeersongeluk aan te meld. Volgens die polisieverslag is die vrou bygestaan om die voorval aan te meld toe die man begin het om ’n video te maak. Die waarnemende polisiebevelvoerder van Bainsvlei het met die man oor die maak van die video gepraat en volgens die polisieverslag het hulle tot ’n vergelyk gekom. In die video sê die man dat hy nie die video sal uitstuur nie, wat hy toe wel gedoen het. Makhele het Dinsdagaand bevestig dat die man met die Bainsvlei-polisiekantoor kontak gemaak het sodat die saak verder ondersoek kan word. Dit kom kort nadat twee beamptes van die Heidedal-polisiekantoor Vrydag in die Bloemspruit-landdroshof verskyn het. Sers. Suzan Shuping en konst. Lucia Marumo het na bewering op Sondag 19 Januarie Steffney Booysen van Heidedal aangerand nadat sy die twee beamptes genader het om ’n huishoudelike dispuut aan te meld. ’n Stryery het tussen die polisiebeamptes en die slagoffer uitgebreek. ’n Video van die voorval het op die sosiale media versprei. Booysen het glo gesê dat die polisiebeamptes haar aangerand het nadat sy gedreig het om hulle te verkla omdat hulle haar nie wou help nie. Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) het die voorval ondersoek en die saak aan die hof oorhandig. Die twee beamptes is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat, en die saak is na 7 Maart uitgestel sodat die direkteur van Openbare Vervolging kan besluit of die klagte wat ingedien is, toepaslik is.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Bloemnuus 12 February 2025 by Novus Media - Issuu