Donderdag 9 Oktober 2025
Tel: 051 404 7600
GRATIS
Sonskyn-kantoor geopen omdat gemeenskap vra; en SAPD pleit ook
‘Help ons polisie’ LIENTJIE MENTZ
Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het die volwaardige Sonskyn-polisiekantoor in Bloemfontein op Dinsdag 7 Oktober geopen. Dié polisiekantoor in Fase 5 van Bloemspruit was tot nou toe ’n satelliet van die Bloemspruitpolisiekantoor, maar die gebied was te groot om tred te hou met die diens wat die polisie hier moes lewer. Volgens Cachalia is die opening van die ten volle toegeruste polisiekantoor te danke aan die aandrang van die gemeenskap. “Die nasionale kommissaris van polisie het ’n pad gevind met die hulpbronne wat beskikbaar was om te voldoen aandrang van die gemeenskap op ’n veiliger omgewing.” Dié kommissaris, genl. Fannie Masemola, het gemeenskapslede gewaarsku om nie die nuwe polisiekantoor met geweld te vernietig as hulle nie met die diens tevrede is nie. “As ’n gemeenskap ’n polisiekantoor
Met die opening van die volwaardige Sonskyn-polisiekantoor in Bloemspruit is van links Maqueen Letsoha-Mathae (premier van die Vrystaat), Firoz Cachalia (waarnemende polisieminister), genl. Fannie Masemola en lt. gen. Baile Motswenyane (provinsiale polisiekommissaris).
beskadig, kry hulle nie weer ’n nuwe een nie,” het hy op die geleentheid gesê. Die opening van die Sonskynpolisiekantoor, die eerste in baie jare in die groter Mangaung-omgewing, het saamgeval met die bekendstelling van die polisie se veldtog om ’n veiliger Kerstyd in te gaan.
Die feestyd-veldtog is Dinsdag by die Dr Rantlai Molemela-stadion bekendgestel. Masemola het die publiek gewaarsu om nie die gesag van die manne en vroue in blou uniform te verontagsaam nie. Daarmee het hy verwys na ’n video van ’n voorval in Kimberley waar twee
mans in hegtenis geneem is vir die aanval op ’n vroulike polisiebeampte. “Enigiemand wat probeer om polisiebeamptes te keer om hul mandaat in die voorkoming en bekamping van misdaad uit te voer, sal te staan kom voor die volle mag van die wet,” sê Masemola in ’n nuusverklaring wat voor die veldtog-bekendstelling uitgereik is. Hy sê polisiebeamptes is ook moeders en vaders, wat hul gesinne verlaat om hul lewe te waag om wet en orde te handhaaf om te verseker dat almal binne die grense van Suid-Afrika te alle tye veilig is. “Suid-Afrikaners het ’n soortgelyke verantwoordelikheid om polisiebeamptes te beskerm en op te staan teen polisie-aanvalle en -moorde. Misdaad kan slegs in ons gemeenskappe uitgeroei word as gemeenskapslede die wet respekteer en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersteun. “Die verantwoordelikheid van die SAPD is om sy grondwetlike mandaat uit te voer − naamlik om misdaad te voorkom, te bekamp en te ondersoek; die handhaaf openbare orde; asook
Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het die opening van die Sonskyn-polisiekantoor in Bloemfontein waargeneem. Foto: Lientjie Mentz
die besekerming van die inwoners van Suid-Afrika en hul eiendom.” Hy sê die polisie se taak is nie maklik nie. “Terwyl ons voorberei om ons polisiebedrywighede te verhoog om ernstige en gewelddadige misdaad te voorkom en te bekamp, insluitend gewapende rooftogte, transito-rooftogte, geslagsgeweld en alle kriminele aktiwiteite, doen ek ’n beroep op ons gemeenskappe om met ons polisiebeamptes saam te werk en hulle te beskerm.”
Vegtertjie (7) bly opnuut moedig nadat gewas terugkeer LIENTJIE MENTZ
Janique Venter is ná haar operasies vroeër vanjaar trakteer op ’n uitstappie na Genubie en die Oos-Londen-akwarium. Foto’s: Verskaf
Bloemfontein se klein vegtertjie wat vroeg vanjaar na Amerika gereis het, waar ’n groot tumor uit haar nek gesny is, moet dringend nog operasies ondergaan omdat dié gewas teruggegroei het. Janique Venter (7) se ouers, Jacques Venter en Nadine Mukheibir, het op Vrydag 3 Oktober die nuus ontvang dat hul dogter se gewas terug is en dat dit nou deur haar brein versprei. Dr. Johan Grobbelaar, hoof van die departement oor-neus-en-keel aan die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, het Vrydag na Bloemfontein gereis om met hulle die voorgestelde operasie te bespreek. Die plan is dat die operasie in November gedoen word, kort ná Janique se agtste verjaardag op 10 November. Janique is op ses maande met neuroblastoom gediagnoseer − ’n kwaadaardige
gewas het aan die regterkant van haar nek gegroei. Twee jaar gelede het dokters bevestig dat die gewas na ’n nie-kwaadaardige ganglioneuroom verander het, maar dit het steeds druk op haar lugpyp veroorsaak. Met die ondersteuning van Dewald en Yolandi Fourie se The Pace Foundation, wat gehelp het om geld in te samel, is Janique en haar ouers aan die begin van die jaar na Memphis, Tennessee, waar die gewas uit haar nek gesny is. Die eerste deel van die operasie in Amerika is gedoen toe spesialiste op 28 Januarie Janique se regterslagaar permanent afgebind het sodat dit nie aan die bloei sou gaan wanneer hulle die tumor verwyder nie. Sy het van Amerika teruggekeer met ’n kunsmatige trachea. Die trachea is ná ’n onsuksesvolle poging, op 13 Maart, op 24 April verwyder nadat dr. Marileen Roos ’n stuk kraakbeen van Janique se linker-oor
gebruik het om die trachea te heg. ’n Skandering om te sien hoe die gewas reageer, is op 10 Junie gedoen en op 29 Julie ’n biopsie. Ná die toetse is vasgestel dat die gewas terug is en nou deur haar brein versprei. Janique se ouers sê hulle is so dankbaar vir die ondersteuning van vriende en familie. Jacques sê toe hulle vroeër vanjaar in Memphis was, het Suid-Afrikaners wat daar woon ’n WhatsApp-groep begin en vir Janique geskenke gegee. ■ The Pace Foundation ondersteun verskeie projekte. Besoek thepacefoundation.com om uit te vind oor die projekte, waaronder een vir Janique. Die stigting bied op Vrydag 31 Oktober ’n Bingo-aand aan. Die geselligheid begin om 18:00 in die Violet-saal op die Bloemfontein-skouterrein. Kaartjies kos R250, of R25 500 vir ’n tafel van tien. Kaartjies is beskikbaar deur 078 779 5450 te skakel.
Janique Venter vroeër vanjaar saam met haar ouers, Jaques en Nadine, voor Graceland (Elvis Presley se huis) in Memphis, Tennessee.