Donderdag 2 Oktober 2025
Tel: 051 404 7600
GRATIS
Ja of nee vir begroting die keuse tussen behoud of verval van erfenisskat
Raadsaal, of net raadop? LIENTJIE MENTZ
Die Vierde Raadsaal, die setel van die provinsiale regering, het dringende instandhoudingswerk nodig om dié geskiedkundige gebou te herstel. Werner Pretorius, woordvoerder vir die DA oor sport, kuns, kultuur en ontspanning in die Vrystaatse wetgewer, sê dié ikoniese gebou waarin die Vrystaatse regering vergader, se verval is by die dag meer sigbaar. In antwoord op vrae wat Pretorius aan die LUR vir openbare werke, Dibolelo Mance, gevra het, is onderhoudwerk van sowat R33 miljoen nodig vir opknappings. Sy sê in die 2024-’25-boekjaar is daar geen spesifieke begroting vir algemene opknappings nie, hoewel R5 miljoen toegewys is om die brandstelsel op te knap. “Die suksesvolle instelling van die brandstelsel is afhanklik van sekere onderhoudswerk wat eers vooraf onderneem moet word,” het sy bygevoeg. Pretorius sê benewens die swak instandhouding, verwaarlosing en afwesigheid van dringende opknapping aan die gebou, is die sigbare verval van die dak, mure en algehele struktuur skokkend. “Daar is skade weens water en vog, lekkende geute, gebreekte houtrame; en talle vertrekke in die gebou is onbruikbaar.” Mance sê in antwoord op Pretorius se vrae dat verlede jaar se begroting R2 miljoen ingesluit het, maar dat dit te min was om herstelwerk te doen en dit toegewys is vir tegniese evaluasie vir professionele diensverskaffers wat in Desember 2024 ingehandig is. Sy bevestig dat twee vertrekke en ’n pakkamer in die Vierde Raadsaal nou ontoeganklik is en dat ’n formele ondersoek nog gedoen moet word om die spesifieke oorsake daarvan te bepaal. Verder sê sy geute en waterafleipype is skeef en sommige is geroes en het gate in. Dit veroorsaak dat reënwater deursyfer
Die Vierde Raadsaal, die setel van die Vrystaatse wetgewer, wat baie instandhoudingswerk benodig. Foto: Lientjie Mentz
wat waterskade aan dele van die gebou veroorsaak. Skade aan die hoofsaal se plafon, die verbrokkeling van pilare voor die raadsaal en roes aan die hoofhek maak die verval baie duidelik sigbaar.
’n Verwaarloosde vertrek in die Vierde Raadsaal wat in ’n komiteekamer omskep kan word. Foto: Verskaf
Mace sê daar is wel al verbeterings aan die badkamergeriewe gedoen en ’n nuwe staalhek is aangebring om veiligheid by die hoofingang van die badkamers te verseker. Pretorius wys daarop dat die kragopwekkingstelsel wat tydens kragonderbrekings gebruik moet word, ook nog buite werking is. Hy sê die Vierde Raadsaal is nie net die setel van die wetgewer nie, maar ook ’n geskiedkundige gebou met baie kulturele en geskiedkundige waarde. “Die verval van die gebou wys nie net op administratiewe agteruitgang nie, maar ook ’n wyer verontagsaming van die behoud van ons erfenis en waardigheid van ons demokratiese instellings,” meen Pretorius. Hy sê as dringende stappe nie geneem word nie, kan die skade wat aangerig word onomkeerbaar wees, en ’n belangrike deel van die Vrystaatse argitektoniese en politieke erfenis sal só vernietig wees. “Die DA eis finansiering om dringende restorasie te onderneem om die verval te keer. “Inwoners verdien ’n wetgewer wat die trots van ’n funksionerende demokrasie verteenwoordig.”
Een van die pilare voor die Vierde Raadsaal wat verkrummel. Foto: Verskaf
Sk Skaap &W Wyn Aand Agt Erfenis Skaaprasse,skaapboude word gesny en teenoor mekaar vergelyk.
Gepaar met Agt Delikate Wynplase
Lewendige Musiek van Jacobus Silver, Thabo Hlongwane & Mario Lategan
Saterdag 1 November 2025
18:00, Saterdag 1 November 2025
De Oude Kraal Country Estate & Spa
Geen verborge kostes nie—net pure, alles-insluitende saligheid teen R495 per persoon
Kom vir die Goue Sonsondergang, Bly vir die Ewige Geure
Bespreek Vandag: www.deoudekraal.com | 071 679 6596 | info@deoudekraal.com