Donderdag 29 Mei 2025
Tel: 051 404 7600
GRATIS
Die Johannesburge metropolisie-orkes het tydens die optog gespeel toe die Mangaung-metro se stadsrede Dinsdag by die Mangaung- binnenshuise sportsentrum aangebied is. Voor sit raadslede van die metro, met die speaker Lawrence Mathae agter in die middel, en die stadsbestuurder, Sello More, regs van hom. Foto: Lientjie Mentz
‘Beter lewe vir inwoners’ nie in praktyk ervaar
Hoesê, meneer Nthatisi? LIENTJIE MENTZ Die Mangaung-metro het reeds talle stappe geneem om die eens wankelende administrasie reg te ruk met planne wat ingestel word om die lewe vir inwoners beter te maak.
Die gaping tussen wat op papier belowe word en wat inwoners daagliks ervaar, word ál groter. – DA-raadslid Frans Bothma
Só het die metro se uitvoerende burgemeester, Gregory Nthatisi, op Dinsdag 27 Mei tydens die stadsrede by die Mangaung- binnenshuise sportsentrum in Rocklands gesê. Nthatisi het op die bekendstelling van die 2025-’26 begroting gesê talle sleutelaanstellings is die afgelope maande gedoen en die stad se makro-struktuur gaan meer stabiliteit bring. DA-raadslid Frans Bothma sê in antwoord meer as 4 000 amptenare neem waar in poste. “Die ANC se versuim om poste te
vul, ondermyn dienslewering en lei tot die aanstelling van duur kontrakwerkers.” Terwyl Nthatisi klem gelê het op die goeie werk wat met skuldinvordering gedoen word, het Bothma gemaan dat ’n groot deel van die uitstaande skuld agterstallig van staatsdepartemente is. “Meer as R2,5 miljard van die uitstaande 9,5 miljard is historiese skuld wat waarskynlik nooit ingevorder sal word nie,” het hy gesê. Die metro het ’n tydelike program waarvolgens inwoners aangemoedig word om hul munisipale rekeninge op
te betaal. Die metro bied aan inwoners grasie tot 30 Junie om agterstallige skuld te betaal of ’n reëling met die metro te tref. Nthatisi sê die program het tot April reeds R127 miljoen van agterstallige skuld ingevorder; R82 miljoen van R206 miljoen is afgeskryf. Hy sê met die hernude poging om invorderings te doen, mik die metro om 80% te behaal op invorderings om diensleweringsagterstande in te haal. Nthatisi sê daar word ook gekyk na toekomstige insentiewe om inwoners te beloon as hulle nie afterstallig raak met hul betalings aan die metro nie. Die nuwe tariewe is ook aangekondig. Watertariewe styg met 11%; elektrisiteit verhoog met 13,5%, soos goedgekeur deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa); en eiendomsbelasting, sanitasie en vullisverwydering verhoog met 4,4%.
Die VF Plus het die begroting verwerp en sê dit is bloot ’n gepoleerde en misleidende samevatting om die werklike stand van dienslewering in die metro te verbloem. Valerie de Kock, VF Plus-raadslid, sê die metro gebruik tegniese taal en selektiewe data om sy mislukkings toe te smeer in stede daarvan om die probleme daadwerklik en verantwoordbaar te hanteer. Die VF Plus het skerp kritiek uitgespreek teen misleidende statistieke in die hersiene dienslewerings- en begrotingsinstellingsplan (SDBIP) wat onder meer aandui dat 95% van huishoudings in informele nedersettings sedert Julie 2023 basiese vullisverwyderingsdienste ontvang. “Dit is bloot nie die geval nie.” Die party eis dat die metro volle verantwoordelikheid neem vir die wanbestuur wat tot die verlies van voorwaardelike toekennings lei en
dringend maatreëls instel om die verlies van toekomstige toekennings te verhoed. Nthatisi het in sy toespraak verwys na voorwaardelike toekennings en waarvoor dit aangewend gaan word. Hy sê R37 miljoen is vir die komende jaar beskikbaar vir die opknapping van die Maselspoortwatersuiweringsaanleg en in nog R118,4 miljoen is vir 2026 begroot. Hy sê dit sal die gehalte van water wat aan gemeenskappe voorsien word, verbeter en die stad minder afhanklik maak van die Vaal Central Waterraad. Bothma sê die DA kan nie ’n begroting ondersteun wat nie geloofwardig is nie. “Die gaping tussen wat op papier belowe word en wat inwoners daagliks ervaar, word ál groter,” sê hy. ■ Lees nog berigte op die webblad bloemnuus.co.za.
VAKELE TOMBSTONES
20 Monument Rd Oranjesig Bloemfontein, 9301
073 967 6212 info@vakeletombstones.co.za
Let Vakele Tombstones help you cherish your loved ones. We provide personal, heart-felt designs to fit the moment. Manufacturing only starts after a deposit of 50% has been paid. No Tombstones will leave our premises unless paid in full. NM10013728-BL290525