Skip to main content

BloemNuus - E-Edition - 13 Nov 2025

Page 1

Donderdag 13 November 2025

Tel: 051 404 7600

Drie vasbyters gee terug LIENTJIE MENTZ ’n Bloemfonteiner, Deon Barnard, sy broer Dattie, en swaer Melius de Wet neem op Sondag 16 November aan die Halfysterman-70.3-kompetisie in Mosselbaai deel om vir die Vrystaatnasorgsentrum geld in te samel. Deon, voorsitter van die Vrystaat-nasorgsentrum se beheerliggaam, wil met dié uitdaging mense bewus maak van die sentrum, wat ’n tuiste vir volwassenes met intellektuele inperkings bied. Met 107 inwoners, is daar verskeie werklokale waar 15 dagwerkers saam met die inwoners onder meer naaldwerk en houtwerk doen, asook in die bakkery bak en in ’n werkswinkel onder meer help om produkte vir AVBOB te lewer. Talle van die inwoners het nie meer familie nie en is in die geheel van ’n staatstoelaag afhanklik. Deon sê die idee om aan die kompetisie deel te neem het tydens hul Desember-familiekuier in Brandon, Engeland, ontstaan. “Ek en Dattie het sit en kuier, en ons het gesels oor gesond wees en gewig verloor. Dattie het al drie keer meer as 30kg afgeskud, en dit was weer tyd. Vir my ook.” Hy vertel sy broer het in 2010 aan ’n ysterman-byeenkoms deelgeneem, en toe hy daarvoor geoefen het, het hy 30kg verloor. Hy is in 2012 met leukemie gediagnoseer en het weer gewig opgetel, maar het weer deelgeneem en weer gewig verloor. “Sedert ons op 1 Januarie vanjaar begin oefen het, het Dattie al 43kg verloor en ek 17kg.” Deon sê hoewel hy al halfmarathons en korter

Dattie Barnard met sy fiets in Engeland. Hy is al 13 jaar kanker-vry.

afstande gehardloop het, het hy nog nooit iets soos dié aangepak nie. Dattie, wat in Engeland woon, is reeds 13 jaar kankervry en gebruik elke geleentheid om terug te gee. “Hy is lief daarvoor om, wanneer hy aan sulke uitdagings deelneem, dit ten bate van die een of ander organisasie te doen. Toe hy my vra vir wie ons gaan deelneem, was daar net een antwoord: Vrystaat-nasorgsentrum,” vertel, Deon. Vir hom is die voorbereiding uitdagend. “Ek gaan met vasbyt, geloof en toewyding my doel bereik,” sê Deon. Hy sê blote angs het hom aan die oefen gehou. “Angs het my laat hardloop, angs het my minder laat eet. Ons wil nie goed doen nie, ons wil net klaarmaak.” Deon sê hy het talle vriende wat al aan dié soort driekamp-uitdagings deelgeneem het. “Hulle het my baie raad gegee.” Sondag se uitdaging behels 1,9km se swem vanaf die historiese Santos-strand tot by die De Bakke-strand. Van daar hardloop atlete na die oorgangsone, waar hulle hul fietse kry vir ’n roete van 90km van die strand binneland toe, tot by Uitkyk op die Herbertsdalepad en terug. Dit is ’n heuwelagtige landskap wat 1 020m styg. Terug by De Bakke is die tweede oorgangsone, waar atlete hul fietse bêre en begin met die wedloop oor 21,1km deur Mosselbaai tot by die Punt, in drie rondtes. ■ Ondersteuners van die drie kan ’n skenking op die Vrystaat-nasorgsentrum se webblad doen.

Deon Barnard, reg vir die groot uitdaging in Mosselbaai. FOTO’S: Verskaf

GRATIS

‘Verskuif jou grense’ glo hardloper

Sy spore lê in Groot Ses LIENTJIE MENTZ

Nadat hy op 2 November die laaste van ses van die wêreld se groot marathons kafgedraf het, bevind ’n Bloemfonteiner hom nou in uitgelese geselskap. Thinus de Vries, ’n geoktrooieerde rekenmeester en ywerige hardloper, het die New York-marathon voltooi en só die Abbott World Marathon Majors voltooi. Dit boonop met sy persoonlike beste tyd in ’n marathon. Hiermee sluit hy hom aan by ’n uitsonderlike groep van sowat 15 000 hardlopers wêreldwyd wat die Six Star-medalje voltooi het − die hoogste eer in amateur marathon-hardloop, toegeken aan atlete wat al ses van die wêreld se grootste marathons voltooi het: Berlyn, Boston, Chicago, Tokio, Londen en New York. De Vries het die New Your City-marathon in ’n persoonlike beste tyd van 2:44:19 voltooi, wat hom 673ste uit 59 135 deelnemers geplaas het. Die New York-marathon is die laaste van die ses grotes: Hy het eerste die Berlyn-marathon in September 2023 voltooi, toe Boston (April 2024), Chicago (Oktober 2024), Tokio (Maart 2025) en Londen (April 2025). Sedert hy in 2018 begin hardloop het, het De Vries 43 kg verloor en sy gesondheid, werkbalans en lewensuitkyk verander. “Ek hardloop om beter te wees as gister en om myself uit te daag,” sê De Vries. “My doel is om ander te inspireer om gesonder te leef en hul grense te verskuif − hetsy in sport, werk of hul persoonlike lewe.” Hy beklemtoon dat konsekwentheid en dissipline die grondslag van sy sukses is. Buiten sportprestasies, handhaaf hy heeltyds ’n professionele loopbaan én gesinslewe as man en pa. Sy volgende groot doelwit is die Boston-marathon in April 2026, waarvoor hy reeds vir 2026 en 2027 gekwalifiseer het. “Om ’n ‘Boston Qualifier’ te wees, is iets besonders in die hardloopgemeenskap. Ek wil Boston elke jaar hardloop solank ek kan kwalifi-

Thinus de Vries met die ses medaljes wat hom nou deel van ’n uitgelese groep atlete in die wêreld maak. FOTO: Verskaf

seer,” sê hy. De Vries is lid van Sportfit in Bloem. “Ek beplan om die Kaapstad-marathon volgende jaar te hardloop. “Ek is geïnspireer deur die uniekheid van die Abbott World Marathon Majors, ses van die mees ikoniese wedlope ter wêreld, en om deel te kon word van hierdie besonderse groep atlete van oor die wêreld heen. Dit voel soos een groot familie,” meen De Vries.

BLOEMFONTEIN BATTERYE ZASTRONSTRAAT 57, BLOEMFONTEIN TEL. 051 430 8898 • TEL. 051 430 4040

KRY GEMOEDSRUS… KRY WILLARD.

25 MAANDE WAARBORG.

NM10035595-BL131125


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
BloemNuus - E-Edition - 13 Nov 2025 by Novus Media - Issuu