Donderdag 11 September 2025
Tel: 051 404 7600
Christo Groenewald (links) en Jaco Grobbelaar van AfriForum het op Donderdag 4 September ’n speelgoed-vullisverwyderingsvragmotor aan Ernest Thabang, bestuurder van vullisverwyderingsdienste aan die Manganung-metro, oorhandig. Hy is versoek om die speelgoed-vragmotor aan die stadsbestuurder, Sello More, te oorhandig. Foto’s: Lientjie Mentz
GRATIS
Rook het Maandag steeds oor die suidelike stortingsterrein gehang. Brande kom die afgelope drie weke gereeld hier voor omdat onwettige bewoners vuur maak. Met die hewige winde wat die afgelope tyd waai, bly die vuur smeul.
Strafregtelike klagte teen stadsbestuurder ingedien
Dienste net môrepraatjies LIENTJIE MENTZ
Die Mangaung-metro se bestuur moet liewer met kinderspeelgoed speel en dienslewering oorlaat aan organisasies en ondernemings wat dienste aan inwoners wil lewer. Só het Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekhoof vir die sentraalstreek, gesê nadat die burgerregte-organisasie op Donderdag 4 September ’n speelgoed-vullisverwyderingsvragmotor soortgelyk aan die een wat in Bloemfontein gebruik word, aan die metro se stadsbestuurder laat oorhandig het. Dit het gekom nadat AfriForum die vorige dag strafregtelike klagte by die polisie ingedien het teen die Mangaung-metro se stadsbestuurder, Sello More, weens sy volgehoue versuim rakende vullisbestuur in die stad.
Grobbelaar sê hulle het twee klagte ingedien: een oor die noordelike stortingsterrein en een oor die suidelike stortingsterrein in Bloemfontein. Hy sê dit is gedoen weens More se volgehoue versuim om vullisbestuur in Bloemfontein doeltreffend toe te pas en vullisterreine aan die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur te laat voldoen. Veral die suidelike stortingsterrein het die afgelope week, sedert Dinsdag 2 September, voortdurend gebrand en digte rook oor groot dele van Ferreira, Fauna, Fleurdal en Lourierpark laat hang. Greg van Noord, DA-wyksraadslid, sê hy het dié Dinsdag ’n dringende beroep gedoen op More, wat nie op versoeke gereageer het nie. “Inwoners se gesondheid ly al jare erg onder die giftige rook, en dit lyk nie of die metro se bestuur dit ernstig opneem nie,” sê Van Noord.
Hy sê die voorafgaande week was daar ook ’n brand wat twee dae lank gewoed het. “Daar is wel al effense verbetering, met ’n heining wat om die terrein opgerig is en planne om die onwettige bewoners van die terrein te verwyder,” sê hy. AfriForum het ook Donderdag vullis by die munisipale hoofkantoor, die Bram Fischer-gebou in Bloemfontein, opgetel. Grobbelaar sê More se prestasiebeoordeling vir die 2024-’25-boekjaar voer aan dat hy al sy interne maatstawwe vir sukses (KPI’s) ten volle bereik het, tog is die Mangaung-metro feitlik bankrot. “Die munisipale bestuurder is van mening dat hy al sy teikens bereik het om van die stad ’n sukses te maak, maar in werklikheid gaan die metro steeds onder ernstige diensleweringtekorte gebuk. Die metro se
verwoestende inploffing onder More se bestuur dien as bewys dat basiese dienslewering aan organisasies soos AfriForum oorhandig moet word,” sê Grobbelaar. Die klagte teen More is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis 59 van 2008 ingedien, nadat daar in AfriForum se oudit uitgelig is dat nie een van Bloemfontein se stortingsterreine aan die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie. AfriForum het dit reeds twee keer onder die munisipale bestuurder se aandag gebring dat die stortingsterreine dringend op peil gebring moet word. Die kwessie is selfs na die provinsiale regering verwys. In ’n brief sê More die Mangaung-metro sal hard veg om die skofstelsel vir werknemers in te stel, wat vullisverwyderingskoste sal spaar en
’n beter diens sal veseker. Dit kom nadat die metro se vullisverwyderingsdiens verlede week weer ernstig geknou is oor geskille rondom die nuwe skofstelsel. AfriForum het in hierdie tyd meer as 900 sakke vullis in Bloemfontein verwyder. Die gebiede waar vullis opgeruim is, sluit in Langenhovenpark, Generaal de Wet, Uitsig en Fleurdal. Vir inwoners van hierdie woonbuurte het die ophoop van vullis ’n gesondheidsgevaar geskep en boonop die waardigheid van hul woonbuurte negatief geraak. Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê AfriForum se ingryping met vullisverwydering is ’n werklike poging om die stad vir al sy inwoners te verbeter. ■ Lees ook die berigte hieroor op bloemnuus.co.za.
NM10027188-BL110925