Donderdag 29 Januarie 2026
Tel: 051 404 7600
GRATIS
Familie, vriende se seer en smart steeds rou
Kranse neergelê ná jaar LIENTJIE MENTZ Presies ’n jaar ná die ongeluk wat die lewe van twee boeties en hul niggie by die N8-kruising buite Bloemfontein geëis het, het vriende en familie kranse langs die pad gelê. Die twee Smit-boeties, Ryan (6) en Ayden (8), en hul niggie, Leané Papendorp (8), is op 24 Januarie 2025 by die verkeerslig op die N8 by die Aljo’s Superspar dood. Dit het gebeur toe die motor waarin Leané se ma, Adri Jonck, die kinders skool toe geneem het in ’n ongeluk met ’n Hilux-bakkie betrokke was. Jonck en nog 'n maatjie van die kinders, Tennique Joubert, wat saam met hulle in die voertuig was, het die ongeluk oorleef. Hulle was albei Saterdag 24 Januarie saam met familie by die kranslegging by die verkeerslig waar Krugerlaan uit die N8 by die Aljo’s Superspar draai. Intussen is drie kruise op die plek opgerig met foto’s van Ryan, Ayden en Leané op. Familielede het Saterdag kranse en blomme by die drie kruise op die kruising by gelê. Ballonne is ook daarna losgelaat. Tinkie Jonck, die drie kinders wat gesterf het, se ouma, het op die geleentheid die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning. Sy het gepraat oor hoe rou en seer hulle nog almal is. “Hulle (die kinders) is op hierdie dag ’n jaar terug van ons af weggevat. Dit is hartseer. “Doelloos, nutteloos.
Ryan en Ayden se ouers, Yolandé en Martin Smit.
Tennique Joubert in ’n wit rokkie by die drie kruise by die N8-kruising waar die ongeluk op 24 Januarie 2025 plaasgevind het. FOTO’s Lientjie Mentz
“Dit moes nie wees nie. “Ek glo ons sal eendag antwoorde kry. “Ek leef om by hulle te wees. Ek glo hulle is gelukkig en hulle wil nie met ons plekke ruil nie. Ek glo hulle leef elke dag hier om ons.” Sy sê sy en die familie het elke dag pyn. “Daar is nie ’n dag wat verbygaan waarop ons nie seer het nie. Van die ongeluk af het ons nog elke dag dieselfde pyn gehad.” In ’n aandoenlike oomblik het Tennique drie ballonne met die letters waarmee haar drie maatjies se name begin, in die lug vrygelaat. Die drie ballonne het oor die ver-
keerslig die Vrystaatse blou somerhemel ingesweef oor die plek waar hulle 'n jaar gelede gesterf het. Die bestuurder van die bakkie Tristan Kearney (20) het Woensdag 21 Januarie in die Bloemfonteinse streekhof verskyn. Kearny sal weer op 24 Maart in die hof verskyn op drie aanklagte van strafbare manslag, een van roekelose en nalatige bestuur, die verontagsaming van ’n padverkeersteken, asook die oortreding van regulasies wat betrekking het op die aantal mense wat hy met dié voertuig kon vervoer. Daar word verwag dat hy dan op die aanklagte sal pleit.
’n Hartseer ouma Tinkie Jonck by die kruise tydens die kranslegging op Saterdag 24 Januarie.
SUPPLEMENTS INSIDE : MATRIC WELL DONE AND TOP SCHOOLS