


![]()



Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal leesboeke om lees in die klas aan te moedig en te bevorder.









ISBN: 9781776250189
Graad 6–8 (Eerste Addisionele Taal)
Is jy gereed vir ’n skubberige avontuur?
Waldo en Connie is warm op die spoor van ’n inbreker. ’n Kosbare voorwerp word uit ’n antiekwinkel gesteel. Kan Waldo sy geheimsinnige nuwe talent gebruik om dit te probeer terugkry? Kort voor lank is hy en Connie deel van ’n holderstebolder avontuur en hulle ontdek ’n eeue oue geheim wat ten alle koste bewaar moet word …
ISBN: 9781776250288
Graad 6–8 (Eerste Addisionele Taal)
Ná ’n raaiselagtige voorval by ’n akwarium besluit Waldo en Connie om ondersoek in te stel. Maar die geheim wat hulle ontdek, is selfs vreemder as wat hulle ooit kon raai … Kan hulle die eienaars van die akwarium help om een van die see se grootste geheime te bewaar? En wie is die geheimsinnige figuur wat hulle skynbaar agtervolg … ’n beskermengel, of iemand vir wie hulle moet ligloop?
ISBN: 9781776250165
Graad 6–8 (Eerste Addisionele Taal)
Wat sluip daar in die maanlig rond?
Waldo en Connie bly in dieselfde woonstelblok … en hulle krap behoorlik kop. Oral in hulle buurt verskyn plakkate en pamflette oor vermiste troeteldiere. En boonop is daar iets vreemds met Waldo aan die gang … hy sien helder oordag dinge wat nie bestaan nie! ’n Nat, slymerige bol hare lei Waldo en Connie op die spoor van ’n onvergeetlike (en gevaarlike) avontuur een wat jou sal laat tjank van lekkerkry!







ISBN: 9781776250301
Graad 6–8 (Eerste Addisionele Taal)
Waldo is seker Connie is in groot gevaar. Wat anders beteken die vreemde gedagteflits wat hy gesien het? En wie is die meisie met die geel reënjas wat vir Waldo ’n ruk lank agtervolg het? Gaan sy weer haar opwagting maak? En wat wil sy hê? Die antwoorde op hierdie vrae gaan Waldo se lewe vir ewig verander … Die vierde en laaste boek in die reeks.
ISBN: 9781776250042
Graad 6–9 (Eerste Addisionele Taal)
Alex se oupa het grys hare, dra valstande en kyk graag na reisprogramme op TV. Maar op ’n dag raak hy skielik mal oor … BREIIINNNSSS!
Dit is duidelik dat Oupa besig is om in ’n zombie te verander. Indien Alex hom van dr. Zuurman en die zombie polisie wil red, gaan hy ’n paar briljante planne, goeie vriende en hope broccoli nodig hê. En miskien kan hulle op die koop toe ook hulle droom bewaarheid om Zambië en Egipte te sien!
• Ook beskikbaar as oudioboek (voorlesing deur Jaco Jacobs).
ISBN: 9781776250387
Graad 6–8 (Huistaal)
Graad 7–9 (Eerste Addisionele Taal)
Of jy nou glo in die noodlot of blote geluk of liefde met die eerste oogopslag, alle liefdesverhoudings moet iewers begin. Dié bundel bevat verhale oor eerste ontmoetings deur gevestigde skrywers soos Jaco Jacobs, Zelda Bezuidenhout, Refiloe Moahloli en Sally Partridge, en nuwe stemme soos Cliffordene Norton en Mercy Kannemeyer.

Die verhale is soms romanties, soms snaaks, soms alledaags, soms buitengewoon … en die eindes is meestal gelukkig. Die bundel is ryk aan diversiteit en bied ’n verskeidenheid identiteite, karakters en agtergronde.


ISBN: 9781779990594
Grade 6–8 (Huistaal)
Grade 7–9 (Eerste Addisionele Taal)
Partykeer skuld die heelal jou ’n paar cool sokkies. Ethan is uit die veld geslaan toe hy een Saterdagoggend sien hoe die nuwe meisie in sy klas ’n paar sokkies steel. Sommerso helder oordag by ’n vlooimarkstalletjie. Almal by die skool wonder reeds oor die meisie wat aan die einde van die vorige kwartaal by die skool aangekom het. Haar naam is Charlie Prins. Pouses sit sy eenkant. Dit lyk of sy nie raakgesien wil word nie. In watter skool was sy voorheen? Het sy broers of susters? Is sy goed met sport of redenaars of so iets? Niemand weet enige iets van haar nie. Charlie is ’n raaisel – een wat Ethan nie kan wag om te ontsyfer nie. Maar die geheim wat sy wegsteek, is groter – en gevaarliker – as wat hy ooit sou kon raai. Met sy kenmerkende mengsel van humor en deernis vertel Jaco Jacobs in ‘Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins’ die storie van iemand wat desperaat is om te verdwyn, en iemand wat nie kan help om haar raak te sien nie. Instagram-foto’s, bordspeletjiekaartjies en ander visuele elemente maak dié warrelwind van ’n verhaal vir jong tieners ’n onvergeetlike leeservaring. Die boek is ’n verwerking van die gelyknamige draaiboek wat die skrywer in 2022 geskryf het. Die rolprent is in 2023 as deel van kykNET se Storiefilms-projek uitgesaai.

ISBN: 9781776250325
Graad 7–8 (Eerste Addisionele Taal)
Jana wou nog altyd in haar oupa se voetspore volg. Hy was ’n fantastiese joernalis en hulle het ‘n liefde vir feite gedeel. Maar gedurende die eerste paar maande van haar graad-sewe-jaar ontdek sy feite wat baie verskil van dié in die boeke op haar rak. Tannie Kitta, wat Jana van kleins af versorg het terwyl haar ouers gewerk het, sterf aan kanker. Sy was Jana se vertroueling en mentor—die grootmens wat haar die heel beste verstaan het. Jana het skaars begin om haar “ander ma” se dood te verwerk, toe nuwe mense in tannie Kitta se huis intrek. Jana se beste vriendin, Azzlyn, val dadelik vir die oulike nuwe meisie se aweregse sjarme en kort voor lank voel Jana soos ’n buitestaander wanneer hulle drie saam is.
In hierdie vreemde tyd van nêrens-inpas-nie, vind Jana vertroosting in “ontdekkings” wat sy maak. Gewaarwordinge wat sy getrou aanteken met behulp van haar oupa se ou Remington-tikmasjien. Stadig maar seker begin sy deelneem instede daarvan om net ‘n toeskouer te wees. Sy ontdek ’n liefde vir skryf en fotografie, herstel haar vriendskap met Azzlyn en Jessie en saam beplan hulle ’n spesiale afskeid vir tannie Kitta. ’n Storie oor grootword, verlies, familie, maar bowenal, ’n storie oor vriendskap.





ISBN: 9781776251940
Graad 7–9 (Eerste Addisionele Taal)
“As my ma een doel voor oë gehad het, was dit om my verstand te bevry. My ma het soos ’n grootmens met my gepraat. Sy het gedurig vir my stories vertel, vir my lesse geleer, veral lesse uit die Bybel. Sy was mal oor Psalms. Ek moes elke dag Psalms lees. Sy het my agterna gepeper met vrae daaroor. ‘Wat beteken daardie gedeelte? Wat beteken dit vir jou? Hoe kan jy dit in jou lewe toepas?’ So het dit elke dag van my lewe gegaan. My ma het gedoen wat die skool nie kon doen nie. Sy het my geleer hoe om te dink.”
Trevor Noah het in Suid-Afrika grootgeword met ’n swart SuidAfrikaanse ma en ’n wit Switserse pa – in ’n tyd toe dit teen die wet was vir ’n kind van gemengde rasse om te bestaan. Maar Trevor het bestaan.
In Teen die reëls vertel hy van sy grootwordjare. Die stories wat hy in dié boek vertel, sal jou laat lag, huil en jou vol verwondering en inspirasie laat, terwyl jy dié ondeunde seuntjie met sy vlymskerp brein en humorsin leer ken. Teen alle verwagtinge in, en danksy sy ma se onfeilbare liefde en geloof in hom, het Trevor hope struikelblokke oorkom om vir hom ’n belowende toekoms te skep.

ISBN: 9781776250363
Graad 7–8 (Huistaal)
Graad 8–9 (Eerste Addisionele Taal)
Elke droom begin met ’n dromer. Megan Werner, die stigter van die U Dream Global-inisiatief, het in 2018 besluit om saam met ‘n groep van 20 tieners vanuit verskillende agtergronde ’n vliegtuig te bou. In Junie 2019 was die vliegtuig uiteindelik gereed en kon die 17-jarige Megan saam met vyf ander tieners die vlug van Kaapstad na Kaïro aanpak. Hulle doel was om kinders in ander Afrika-lande te inspireer om hul drome na te jaag. Min het die ses tieners egter geweet dat dit uiteindelik HULLE sou wees wat deur die reis geïnspireer sou word.
Verskeie avonture en naelbyt-oomblikke het gevolg voordat Meganhulle uiteindelik op Kaïro-lughawe geland het. Hier het hulle grootste ondersteuner, Megan se pa, die tieners ingewag. “Ons het dit gemaak!” het hy gejuig en vir Megan ’n stywe druk gegee. ’n Paar dae later het ’n tevrede span die reis terug na Suid-Afrika aangepak. Oudergewoonte het Megan se pa en sy medevlieënier in hul eie vliegtuig saamgereis om ondersteuning te bied. Maar bokant Tanzanië het die droom in tragedie geëindig …
As jy droom is ’n storie van durf, deursettingsvermoë, hoop én hartseer. ‘n Avontuur met soveel adrenalien dat jy dit dalk vergesog sou noem –as dit nie die waarheid was nie …



ISBN: 9781779990433
Graad 8–10 (Huistaal)
Graad 9–11 (Eerste Addisionele Taal)
Wanneer Cazlee se pa een aand weer sy hande vir haar lig, slaan sy terug. Voor sy haar kom kry, veg sy elke naweek by ’n onwettige vegklub om kos op die tafel te sit en sy dobbelgewoonte te onderhou.
Sy droom van ’n matrieksertifikaat en ’n lewe ver weg van haar swakkeling-ma, dronklap-pa en ’n vegkryt waarin min reëls geld. Maar haar skoolwerk ly ál meer onder die laatnaggevegte.
Dan sien ’n voormalige martial arts-kampioen Cazlee se talent raak. Hy bied haar ’n beurs aan by die skool waar hy taekwondo afrig en die kampioentrofee in die visier het.
Ellamay, sy dogter, droom daarvan om in haar kampioen-pa se voetspore te volg. Dat haar pa uit sy pad gaan om eerder van Cazlee ’n kampioen te maak, lei tot wrywing tussen die twee meisies.
Dan gaan die wêreld van onwettige gevegte vir Ellamay ook oop. Dinge loop lelik skeef en Cazlee moet ‘n besluit neem wat haar hele toekoms kan beïnvloed.

ISBN: 9781776250769
Graad 8–10 (Huistaal)
Graad 9–11 (Eerste Addisionele Taal)
Gabby en haar niggie Georgia lyk baie na mekaar en toe hulle jonger was, was hulle onafskeidbaar. Maar iewers het hulle vreemdelinge vir mekaar geword. Al wat hulle nou gemeen het, is die bloed in hulle are. Gelukkig het Gabby goeie vriende en dalk selfs iets meer as net vriendskap met Brandon …
Toe die matriekgroep van Barkly-Wes op ’n toer na Kaapstad vertrek, ontdek Gabby dat sy per ongeluk Georgia se dagboek ingepak het. Kort voor lank kry haar nuuskierigheid die oorhand en begin sy haar niggie se dagboek lees. Wanneer Georgia daarvan uitvind, breek ’n volskaalse niggie-oorlog uit.
Nie eens Kaapstad se besienswaardighede of hulle vriende se raadgeepogings kan die spanning verlig nie. Gaan Gabby se verraad die niggies nog verder uitmekaar dryf of gaan dit daartoe lei dat hulle mekaar beter begin verstaan? En wat van Brandon? Gaan hy aanhou om haar te vermy nadat Georgia stories oor haar versprei het, of sal hulle steeds saam matriekafskeid toe gaan?





ISBN: 9781776250240
Graad 8–10 (Huistaal)
Graad 9–11 (Eerste Addisionele Taal)
Kara Immelman se lewe is eintlik redelik uitgesorteer. Sy is in matriek en hoewel sy heeltemal te skaam is om gewild te wees, het sy vir Eduard, haar beste vriend van laerskooldae af. Sy is ook haar skool se topswemmer en die moontlikheid van ’n swembeurs wink. Daar gebeur nie veel op die dorpie waar hulle woon nie, maar sy en Eduard het groot planne om eendag die wêreld te sien. Planne wat aangevuur word deur hulle gedeelde passie vir flieks. Wanneer Samantha egter op die toneel verskyn, herrangskik dit Kara en Eduard se hele bestaan, want Sam is nie net onmoontlik mooi nie, sy speel ook volgens haar eie reëls.
Toe ons oneindig was, is die verhaal van ’n meisie wat nog altyd presies gedoen het wat van haar verwag is. Iemand wat so besig was om almal gelukkig te hou, dat sy nooit regtig probeer uitvind het wat háár gelukkig maak nie. Totdat sy een middag in ’n aantrekhokkie vir die heel eerste keer gesoen word. Dis ’n storie oor vriendskap en lojaliteit. Oor seksualiteit en vloeibaarheid. Maar bowenal, is dit die verhaal van ’n meisie op ’n selfontdekkingsreis—die soort reis wat in ’n Hollywoodfliek hoort.
KONTAKBESONDERHEDE:
Kliëntediens
Tel: 011 731 3300
E-pos: customerservices@macmillaneducation.co.za
Kilayne Pelser

Agentskap en Digitale Verkoopsbestuurder
Sel: 076 994 0985
E-pos: Kilayne.Pelser@macmillaneducation.co.za
Bruce Mpofu
Agentskap en Digitale Verkoopskonsultant
Sel: 066 138 2746
E-pos: Bruce.Mpofu@macmillaneducation.co.za