Veiligheids- en sekuriteitsuitdagings by die werk vir vroue in mynwese
Geen skade aan mynwerkers en gemeenskappe wat deur mynboubedrywighede geraak word nie Mine Health and Safety Council
Veiligheids- en sekuriteitsuitdagings met ’n impak op vroue in die Suid-Afrikaanse mynboubedryf Jy is waardevol – as persoon, vrou en mynwerker wat tot ons land se ekonomie bydra. Ons weet egter dit is nie altyd vir jou ’n maklike pad nie. Ons navorsing sê vir ons dat talle van julle persoonlike veiligheids- en ander onaanvaarbare optrede soos afknouery, geweld en seksuele teistering by die myne en op julle pad na en van die werk, teenoor julle in die gesig staar.
Hierdie MHSCverduidlikende handboek is ontwerp om jou te help om sulke gedrag te verstaan en dit te hanteer.
Ons weet dat wanneer jy afgeknou en gedreig word, of liggaamlike geweld of selfs seksuele teistering in die gesig staar, jy nie ten beste in die werkplek kan presteer of konsentreer nie. Dit stel jou en jou medewerkers in gevaar. Dit is ook sleg vir jou gesondheid en geluk – jy is meer as net ’n werker of ’n vrou of ’n ma – jy is die rots waarop Suid-Afrika sy toekoms bou deur jou deelname aan mynbou, die gemeenskap en die samelewing.
Hierdie gids bespreek afknouery en geweld by die werk.
Seksuele teistering word in ons MHSC-boekie, Seksuele teistering in die myne, bespreek. 2
Afknouery
Afknouery sluit in dat inligting wat ’n vrou met haar werk kan help van haar weerhou word, of deur konstant fout te vind met haar werk, deur haar dom te laat voel voor haar medewerkers, deur van haar te skinder en om haar nie welkom in die groep te laat voel nie.
Afknouery sluit swak taalgebruik en ’n geskree in – dit word verbale mishandeling genoem. Hierdie optrede is bedoel om die vroulike werker bang te maak en te intimideer.
Dit moet gestaak word, omdat vroue wat afgeknou word, angstig word en spanning ervaar; hulle vind dit moeilik om te slaap of te konsentreer en dan raak hulle angstig en agtelosig, omdat hulle moeg is. Dit beïnvloed almal se veiligheid.
3
Afknouery
Afknouery beïnvloed mense se lewens by die werk en tuis. Die persoon voel sy is nie goed genoeg nie en kla teenoor almal. Soms wil ander mense nie haar verhaal hoor nie, omdat hulle dink sy behoort self iets daaromtrent te doen en wonder waarom sy dit nie doen nie.
Die vrou wat afgeknou word, verloor haar selfvertroue en hou op om haar werk te geniet. Soms raak sy so bang om werk toe te gaan dat sy siek word. Om bang en angstig te wees, kán mense siek maak.
Sy kan haar skofbaas of die Departement Menslike Hulpbronne vra om haar na ’n ander departement of afdeling oor te plaas. Dit is egter vir talle myne ’n probleem, omdat hulle dalk nie ’n ander pos beskikbaar het nie, of omdat hulle bekommerd is dat sy weer afgeknou sal word.
In die studie wat gedoen is, het ’n gedeelte van die vroue aangedui dat hulle gereeld afknouery in die myne ervaar het. Dit is gewoonlik ’n toesighouer, medewerkers of spanleiers wat hulle afknou.
4
Wat kan jy doen as jy afgeknou word, of voel en glo dat jy afgeknou word?
Jy kan vir die afknouer sê om op te hou
Jy kan dit by ’n kollega aanmeld
Jy kan dit by ’n senior bestuurder aanmeld Jy kan ’n oorplasing aanvra Jy kan hulp by ’n vakbondverteenwoordiger vra
Jy kan die persoon bloot ignoreer
5
Jou regte
As ’n persoon wat in Suid-Afrika woon, word jy deur die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 en sy Handves van Regte beskerm. Die Grondwet verskans die beginsel van gelyke beskerming voor die reg en die verbod op diskriminasie waarop wetgewing oor seksuele geweld en teistering berus, soos dit die praktyk in die meeste lande is.
Artikel 9 (1). Almal is gelyk voor die reg en het die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg. Artikel 9 (4). Niemand mag regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand op een of meer gronde ingevolge ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele georiënteerdheid, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte diskrimineer nie. Artikel 10. Elkeen het ingebore waardigheid en die reg dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word. Artikel 12 (1c). Elkeen het die reg op vryheid en sekerheid van die persoon, insluitende om vry te wees van alle vorme van geweld van hetsy openbare hetsy private oorsprong. Artikel 12 (2). Elkeen het die reg op liggaamlike en psigiese integriteit, insluitende die reg op sekerheid van en beheer oor die eie liggaam. Artikel 22. Elke burger het die reg om vrylik ’n bedryf, beroep of professie te kies. Die beoefening van ’n bedryf, beroep of professie kan deur die reg gereguleer word. Artikel 23 (1). Elkeen het die reg op billike arbeidspraktyke. Artikel 24 (a). Elkeen het die reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie.
6
Liggaamlike en verbale geweld
Suid-Afrika is ’n gewelddadige land en sy vroue en kinders is baie dikwels die slagoffers van hierdie geweld.
Meer as die helfte van die vroue wat elke jaar vermoor word, deur hulle manlike lewensmaats vermoor en die waarskuwingstekens is gewoonlik duidelik vooraf te sien. As ’n man sy lewensmaat begin slaan, kan die geweld vererger totdat sy in ’n hospitaal of in ’n graf beland. Daar is organisasies wat vroue help om geweld tuis te hanteer, maar vir baie vroulike mynwerkers is geweld ook op pad na en van die werk ’n werklikheid. Liggaamlike geweld teenoor ’n vrou sluit in slaan, skop, klap, messteek, skiet, stamp en stoot, byt, knyp, aanranding, betasting of aanval soos verkragting. Werksplekgeweld sluit ook verbale mishandeling en dreigemente in – jy behoort nooit ’n dreigement van aggressie te ignoreer nie! ’n Man wat gewelddadige, kru taal gebruik, toon sy minagting vir vroue. Hy behoort as potensieel gevaarlik beskou te word.
7
Geweld op pad werk toe
Talle vroulike mynwerkers ervaar uiterste mishandeling wanneer hulle op pad werk toe is. Dit kan wissel van mense wat beledigings teenoor die vroulike mynwerkers slinger tot werklike fisiese aanvalle op die vroue. Dit is wys om saam met ander mense te reis vir jou eie beskerming – daar is veiligheid in getalle. Vermy dit om die enigste persoon in ’n taxi of bus te wees. Indien jy nie ’n reismaat kan kry nie, vra die mynbestuur om dan ’n mate van beskerming te verskaf – vroue wat alleen reis, is teikens vir gewelddadige mans.
Vermy dit om na sononder te reis indien jy kan. Misdadigers verkies om die donkerte te gebruik sodat hulle nie gesien kan word nie.
Ignoreer opmerkings soos “Jy steel ’n man se werk” of “Jy is nie ’n vrou nie; jy gee voor om ’n man te wees.” Dit is baie dikwels die soort opmerkings wat jong mense of mense wat onkundig is, oor jou situasie maak. Hierdie soort mense het ’n gebrek aan goeie maniere en dit het geen sin om met hulle te redeneer nie. Hulle hoor geen gesonde verstand nie; net hulle eie leë geklets. Ignoreer hulle.
8
Geweld by die werk Mans wat ’n swak houding openbaar teenoor vroue in die algemeen, maar veral teenoor vroue in die mynbedryf, is die oorsaak van werksplekgeweld en seksuele teistering in myne. Hierdie mans kan die skuld op lang werksure en skofwerk pak, maar die besluit om ’n vrou te slaan is net hulle s’n – hulle kan niemand anders daarvoor die skuld gee nie.
Hulle kan nie die samelewing, of die wyse waarop hulle grootgemaak is, of dat hulle mans is en glo dat hulle daarop geregtig is om vroue te ‘dissiplineer’, die skuld gee nie. Hulle moet met hulle kollegas saamwerk, al is hulle vroulik. As hulle geweld gebruik in die werksplek, is dit ’n kriminele handeling.
Geweld teenoor vroue in die mynbedryf kan plaasvind in kleedkamers, tydens die vervoer van personeel na en van werksplekke, en in afgeleë of donker areas en gange of enige ander plek in die myn waar hierdie predatore kan toeslaan. Daar is nie veel wat jy kan doen om hulle houdings te verander nie – indien jy aggressief is, kan hulle selfs meer aggressief wees; indien jy onderdanig is, kan hulle dit as ’n teken van swakheid beskou en jou aanval. Jy hoef dit egter nie te aanvaar nie.
Wat jy moet doen, is om enige aanval onmiddellik aan te meld. Geweld moet stopgesit word – dit help nie om dit af te maak en te sê: “Ag, hy het my net hard uit die pad gestamp en toe val ek” nie. Die bedoeling was duidelik en volgende keer sal dit harder en gevaarliker wees. Meld dit aan. Jy beskerm nie net jouself nie, maar ook al die vroue wat saam met hierdie persoon werk.
Jy moet ook ander mans aanmoedig om na vore te kom en jou te ondersteun wanneer jy voorvalle aanmeld. Nie alle mans is gewelddadig nie; die meeste is ordentlike mense met vrouens en kinders, maar hulle moet standpunt inneem teen hierdie klein hoeveelheid baie gevaarlike mans.
9
Hoe om gewelddadige aanvalle te hanteer Indien jy aangeval is, sal jy agterkom dit is nie net die liggaamlike pyn waarvan jy moet herstel nie, maar ook die emosionele lyding. Jy kan dalk agterkom jy is angstig, depressief of kwaad.
Indien jy woede en aggressie ervaar, moet jy berading kry. Indien jy dit probeer onderdruk, kan jy jou woede op jou kinders of lewensmaat wil uithaal deur te skree, of dalk iemand anders beseer. Indien jy terugkeer werk toe en verward of bang is, en nie kan fokus nie, kan dit tot ongelukke en beserings lei en ander werkers in gevaar stel. Jy moet vry wees van hierdie gevoelens deur berading te kry.
Moenie enige skuld vir enige aanval aanvaar nie – dit is nie jou ‘fout’ nie. Swak en aggressiewe gedrag van mans teenoor vroue is onaanvaarbaar. Jy moet enigiemand ignoreer wat vir jou sê dat dit is wat gebeur as jy in ’n manswêreld wil werk – nee, dit is nie. Gewelddadige mans val ook ander mans aan, maar niemand blameer ooit daardie slagoffers nie – waarom is dit dan anders as jy ’n vrou is?
10
Maak jou werkplek veiliger Moedig almal aan om almal anders met respek te behandel. Moenie kwetsende grappies vertel of met ander mense spot wat anders is of mense skeldname toevoeg nie. Sodra jy geen respek vir iemand of ’n groep mense toon, sal die hele werksmag onaangenamer word. Moenie seks vir enigiets anders verruil nie – jy sal ’n slegte reputasie opbou, jy sal siektes opdoen en jy sal nie altyd kry wat jy wil hê nie, omdat mense op jou sal neersien.
Dring daarop aan dat die mynbestuur afsonderlike kleedkamers en toilette vir vroue voorsien, en maak dit ’n oortreding vir ’n man om vroue se fasiliteite te gebruik. Vra vir opleidingsessies vir mans en vroue waartydens anti-gewelds- en anti-teisteringsvideo’s vertoon word. Maak eenvoudige plakkate teen geweld vir die myn. Vra al die vroue in die myn om byeen te kom en vrylik oor hulle probleme in ondersteuningsgroepe te praat. Dring daarop aan dat alle gesondheids- of veiligheidsverwante komitees by jou myn minstens een of meer vrouelede het wat daarop dien. Dis net vroue wat die vraagstukke wat ’n impak op vroue in die werkplek het, die beste sal verstaan.
Vra die mynbestuur om veiligheidskameras, wagte, paniekknoppies en tweerigtingradio’s op plekke te installeer wat in die geval van ’n aanval gebruik kan word.
11
Maak jou werkplek veiliger Moenie alleen werk nie, veral nie snags nie – kry nog ’n vrou, of iemand wat jy vertrou, om saam met jou te werk om julle albei meer veiligheid te bied. Vra die mynbestuur om almal in te lig oor die prosedure vir formele klagtes – dit behoort nie net op ’n rekenaar beskikbaar te wees nie, maar ook in papier vorm. Dring daarop aan dat die polisie in kennis gestel word in die geval van ’n ernstige aanval en dat hulle die saak ondersoek.
Moet dit nie ignoreer of dit afmaak as niks as jy enige van hierdie soort onaanvaarbare optrede of handelinge sien wat jou kollegas moet verduur of deurmaak nie. Rapporteer dit onmiddellik aan die skofbaas, mynbestuur of Departement Menslike Hulpbronne – dit kan volgende keer met jou gebeur indien jy nie daarop aandring dat dit onmiddellik gestaak word nie.
Mine Health and Safety Council (MHSC) Woodmead Business Park 145 Western Service Road Maple North Building Woodmead, Gauteng South Africa Tel: (011) 656 1797 Fax: (011) 656 1796
Mine Health and Safety Council